MOSSELBAAI NUUS - Verlede Saterdag was sonder twyfel een van die Barbarians se beste ligawedstryde vir die seisoen.
Om die Crusaders op hul tuisveld, die Beeskraal, te klop was nog nooit vir enige span maklik nie. Die besoekers het boonop weens beserings sonder 'n paar sleutelspelers opgedaag. Met 'n 43 - 32-oorwinning het Babaas 'n duidelike boodskap aan die ander spanne gestuur.
Krediet ook aan die B- en C-spanne wat onderskeidelik met 22 - 19 en 15 - 12 gewen het.
Die A-span-wedstryd was beslis een met vele hoogtepunte.
Babaas het in die eerste helfte met die wind van agter gespeel en was vanaf die afskop op die aanval. In die derde minuut het Shernan Josephs (slot) ná 'n goeie dryfmaalbeweging met sy kenmerkende kraglopie vir Babaas se eerste vyfpunter oorgegaan. Nigel Prins (losskakel) was in die kol met die doelskop.
Kort hierna het die tuisspan ook met 'n pragdrie geantwoord - goeie samespel tussen voor- en agterspelers het hiér gehelp.
Beide spanne het hierna met bal in die hand goeie hardlooprugby gespeel, maar dit was Jason Jonas (heelagter) van Babaas wat vir die opposisie hakskene gewys het toe hy vir die besoekers se tweede drie oorgegaan het. Babaas se ondersteuners het saam gepraat, maar dit was van korte duur, want 'n sleutelspeler is met 'n rooi kaart gestraf.
'n Speler minder het egter nie vir Richayno Simmons (vleuel) gestuit nie. Hy is na 'n goeie sololopie oor vir nog vyf punte. Met die telling op 25 - 15 in die Barbarians se guns het die manne gaan water drink.
Twee minute na die tweede helfte se afskop het Babaas se Nigel Prins vir 'n vyfpunter oorgegaan, ná goeie samespel tussen voor- en agterspelers. Dewanley van Rensburg (senter) het seker gemaak van die doelskop.
Crusaders het hierna twee keer agter Babaas se doellyn gaan kuier, ná 'n paar goeie rolmaalbewegings deur hul voorspelers. Met die telling op 32 - 29 in die guns van Babaas kon die wedstryd nog enige kant toe swaai.
In die laaste 10 minute daarvan was dit die Barbarians se Jason Jonas (heelagter) wat die wendrie aangeteken het, terwyl Prins met twee belangrike strafskoppe geslaag het.
Babaas meet hierdie naweek teen Bridgton in Oudtshoorn kragte, waar hulle 'n groot aanslag te wagte kan wees. Bridgton het die hoogaangeskrewe Heidelberg oortuigend met 43 - 33 in hul vorige wedstryd geklop.
Natuurlik gaan Bridgton die gunstelingspan wees om met eer uit dié stryd te tree, maar maklik gaan dit nie teen die Barbarians wees nie.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’