MOSSELBAAI NUUS - Die Harlequins van Oudtshoorn word nie maklik op hul tuisveld geklop nie.
Dié manne het die Barbarians verlede Saterdag omtrént laat sweet vir hul naelskaapoorwinning van 29 - 23.
Toe die eindfluitjie blaas was daar 'n duidelike sug van verligting onder die Barbarians se ondersteuners. 'n Fisieke stryd tussen die twee pakke voorspelers was dit gewis. In die skrums was dit 'n gelykopstryd, terwyl die tuisspan 'n paar balle in die besoekers se lynstane afgeneem het.
Die Harlequins, bekend vir hul hardlooprugby, het vanaf die afskop vir Babaas onder druk probeer plaas met aanvallende spel deur hul voor- en agterspelers.
Die besoekers se goeie verdediging het egter hul aanvalle in die kiem gesmoor en hulle tot een vyfpunter in die eerste helfte beperk.
en spyte van 'n paar hanteerfoute kon die Barbarians twee keer oor die tuisspan se doellyn gaan. Teen rustyd was die telling op 15 - 13 in die Barbarians se guns.
In die tweede helfte het die Harlequins se aanvallende spel voortgeduur met hewige druk op hul besoekers se verdediging. Babaas het op hulle beurt voorlangs, veral in die vaste skrums, hul stempel begin afgedruk nadat 'n paar veranderings aangebring is.
Hiér is die tuisspan telkemale vir onwettige skrumtegnieke gestraf.
Die Barbarians het na die kantlyn gemik, maar goeie Harlequins-verdediging het hul rolmaalbewegings gestuit. Hulle het egter steeds twee drieë gaan druk ná hulle besluit het om die bal wyd te speel.
'n Oorwinning het gewink.
Die Harlequins het op hul beurt ook weer oor die doellyn gekom en daarna met 'n strafskop nóg punte gemaak. Op 29 - 23 kon die wedstryd nog na enige kant swaai.
Twee minute voor afblaastyd (in die Barbarians se kwartgebied) is 'n skrum aan Harlequins toegeken. Die tuisspan is egter vir onwettige skrum gestraf, en die Barbarians het uit 'n gewisse nederlaag ontsnap.
Vir seker sal daar hard agter die skerms gewerk moet word voor die Barbarians die groot kanonne oor die volgende sewe weke aanvat.
Die Barbarians se B- en C-span het onderskeidelik met 22 - 13 en 20 - 19 gewen.
Eerskomende Saterdag pak hulle die 2025 SWD-kampioene, die Evergreens, op D'Almeidapark - dít gaan beslis 'n grote wees.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’