Gallery Video
MOSSELBAAI NUUS & VIDEO'S - Die plaaslike ATKV-takke, Seeuitsig en Langsous was omtrent bedrywig in aanloop tot Erfenisdag.
Seeuitsig, wat hulle veral beywer vir jeugontwikkeling het boektrommels by twee plaaslike laerskole, Diaz en Ridgeview afgelewer as deel van hulle bydrae om die jeug deur leesvaardighede te bemagtig.
Langsoustak-voorsitter, verduidelik dat die ATKV vier fokusareas het, naamlik taal, onderwys, gemeenskap en die kunste.
"Hierdie maand het die plaaslike Langsous- en Seesig-takke al vier aangespreek met die oorhandiging van boektrommels en die leesonderrig-opleiding aan onderwysers, ouers, nasorgversorgers en ander belanghebbendes. Behalwe dat beide gedurende Erfenismaand plaasvind en dat taal, boeke en lees deel van ATKV se nalatenskap is, wil ons ook die kollig plaas op wat ons as gemeenskap in kinders belê.
Kyk video's hieronder.
FOTOGALERY: ATKV wikkel met woorde
Werksessies
Op Dinsdag, 21 September is interaktiewe werksessies by dié twee skole deur Chareldene van der Merwe van die ATKV se Vriende van Afrikaans en Dokka Swart van Doen en Leer aangebied.
LEES: ATKV wikkel op Mosselbaai
Tydens die sessie, het Van der Merwe vir die kinders onder meer 'n opvoedkundige boek gelees, daarop gerig om hulle teen seksuele misbruik te beskerm. Die kleingoed het vasgenael gesit en luister hoe die storieboekkaraktertjie, Parmant elke keer wanneer iemand aan hom wil vat pertinent antwoord: "Dis my lyfie en ek sê nee, nee, nee." Die kinders moes hierdie woorde deur die loop van die storie herhaal as deel van vaslegging van 'n lewensbelangrike boodskap.
Swart, het die praktiese oefeninge met die kinders behartig.
Die waarde 'n van boektrommel, wat meer as 100 opvoedkundige items bevat, is R8 500.
"Dit gaan egter nie net oor geld nie. Dit gaan daaroor dat boeke waardevol is omdat iemand hard gewerk het om seker te maak dat daar wel boeke is. Boeke is vol kennis en ons leer daaruit. Dit is hulle eintlike waarde," het Van der Merwe aan die kinders gesê.
Die opvoeders het met entoesiasme aan die program deelgeneem.
Op Woensdag, 22 September, is 'n leeswerkswinkel by Erika Primêre Skool aangebied in samewerking met beide die Seeuitsig- en Langsoustak.
FOTOGALERY: Boektrommels vir laerskole
Kyk 'n video hieronder.
Statistiek
Van der Merwe het hier 'n insiggewende praatjie gelewer waar in ontstellende statistiek oor leesvaardighede vervat is.
Sy het statistiek voorgehou dat slegs 14% van Suid-Afrikaners aktief lees en dat 58% van huishoudings geen boeke besit nie. 'n Derde van ouers vertel nie vir hulle kinders stories nie en 50% het nog nooit 'n boek vir hulle kinders voorgelees nie. Voorts, lees 80% van Suid-Afrikaanse graad 4-leerders, nie met begrip nie.
Van der Merwe het die belangrikheid daarvan om aan kinders voor te lees benadruk en uitgestip dat deur vir kinders voor te lees, hulle lewenslange lesers kan maak. Dit bring ook mee dat hulle optimaal sal kan leer.
"In baie gevalle lees ons kinders egter nie, want ouers lees nie," het Van der Merwe verduidelik. Die praktiese leeswerkswinkel, was ook juis daarop gerig om opvoeders toe te rus.
"Jy kan letterlik 'n kind slim lees. Kinders aan wie voorgelees word, se woordeskat is ook beduidend beter."
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'