MOSSELBAAI NUUS - 'n Inwoner van Klein-Brakrivier maak opslae met sy digbundel, Kindwees Anderkant die Draad. Andries SM Boshoff (44), oud-leerder van Hoërskool Punt, sê hy kan nie dig nie, maar sy bundel bewys die teendeel.
Andries het die bundel in 2009 begin saamstel en het aan die bykans 300 gedigte tot 2013 geskryf.
Vra jy hom waaroor die bundel gaan, som Andries dit so op: "Dit gaan oor seerkry en genesing."
Die bundel is nie slegs gebasseer op sy kleintyd nie, maar ook op die lewe van elke kind, aan die anderkant van die draad, dus elkeen wat deur trauma geraak word.
Die bundel is gebore uit SMSe wat Andries aan vriende sou stuur.
"Soos gedagtes in my kop opgekom het, het ek dit aangestuur. Verskeie mense het my toe begin kontak en vir my gesê ek skryf mooi gedigte. Ek kan nie dig nie, maar ek het die gedagtes in my kop onmiddelik op 'n SMS geskryf en dit was basies dit."
'n Resensie oor die bundel deur plaaslike skrywer Marilize Swart beskryf Andries se werk as 'n pragstuk.
"Die gedigte tref diep, vertel soms van dinge waaroor daar oor die algemeen stilgebly word. Ek sal aanbeveel dat die bundel oor 'n tydperk gelees word om die meeste genot daaruit te put en die digter se boodskap behoorlik raak te sien."
Die boek is deur Myra Lochner van Kreativ SA uitgegee.
Wanneer Andries nie dig nie, spandeer hy graag tyd saam met sy sesjarige seun, Hendrik en sy vrou, Isabel.
Hy is ook in die proses om 'n boerdery duskant Herbertsdale aan die gang te kry.
Kindwees Anderkant die Draad kos R200 en daar is tans 120 bundels gedruk.
Die omslag van die digbundel.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'