MOSSELBAAI NUUS - In Aslapark is daar 'n groeiende nood aan 'n voldoende dagsorgfasiliteit vir peuters en kleuters aldus pastoor Jennifer Saal, wat haar reeds die afgelope paar jaar oor die kinders van dié gemeenskap ontferm. Met die aanvang van die nuwe skooljaar verlede week, het sy nou in die 40 kindertjies waarna sy moet omsien.
"Ek moet mense nou al begin wegwys en die nood is so groot. Dit breek my hart," sê past Saal.
In Augustus 2017, het die Mossel Bay Advertiser berig oor past Saal se sentrum by die Aslapark-gemeenskapsaal toe sy nood gehad het aan boumateriaal om die bestaande fasiliteit te vergroot. Vir die afgelope bykans 10 jaar bedien sy die gemeenskap van Alsa en ontmoet sy mense in hulle uiterste nood. Sy hou kerk, rehabiliteer verslaafdes en werk met mishandelde vroue. Sedert 2016, bedryf sy ook 'n kleuterskool.
Pastoor Saal gebruik die perseel met die goedgunstige toestemming van die Mosselbaai-munisipaliteit, wat ook toestemming gegee het dat sy die bestaande fasiliteit mag vergroot. Danksy goeie ondersteuning, staan die aangeboude gedeelte reeds dakhoogte. Met die toename in peuters en kleuters wat 'n heenkome nodig het, is daar nou groot nood om die gedeelte te voltooi.
"As ons net kan dak opsit en 'n deur kan kry, dan kan ons meer kindertjies help. Ons sal ons later bekommer oor wat binne-in die vertrek moet kom." Pastoor Saal moes bekwame hulp inroep om die toename in kinders te help hanteer. Syself is ook besig om verder te studeer in vroeë kinderopvoeding. Tans is haar behoefte aan materiaal om die gebou te kan voltooi. Uit die aard van die saak is daar ook meublement nodig, matrassies vir die kinders om op te slaap, eetgerei en bestanddele vir die maaltye wat sy aan die kleingoed verskaf.
Enigiemand wat graag wil bydra tot volhoubare hulp aan die Asla-gemeenskap deur middel van past Saal se Pniël-bedieninge, kontak haar (078 712 4283). Enige bydraes kan inbetaal word by RJ Saal, Capitec Spaar, rekeningnommer 1249543159.
Met die aanvang van die nuwe skooljaar staan die aangeboude gedeelte al dakhoogte, maar weer is daar groot nood om die aangeboude gedeelte te voltooi sodat die nou in die 40 kindertjies in haar sorg genoeg plek het. Hier is pastoor Saal (regs) met (van links) Rosina Dulman en Tandokazi Ngqibayo.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'