Franklin werk as 'n kaartgewer in die casino van Independence of the Seas, 'n passasierskip van Royal Caribbean International wat, met 22 vaartuie is sy vloot, gereken word as die wêreld se grootste passasierskip-maatskappy.
Ofskoon dit dalk baie glansryk klink, het Franklin se lewe maar 'n nederige begin gehad en het hy met die koms van die Suid-Afrikaanse demokrasie in 1994 gematrikuleer aan Hoërskool Hillcrest. Hy het aanvanklik beplan om hom as elektrisiën te bekwaam, maar het gou besef hy wil tussen mense wees en nie agter die boeke nie en het daarom sy studies gestaak.
Met die gebrek aan werksgeleenthede in Mosselbaai word hy uiteindelik 'n rybaan-bestuurder by die Total-vulstasie op die N2. Vyf jaar later vat hy die kans en doen aansoek vir werk as kassiere by die Garden Route Casino, wat toe nog in die beplanningsfase was. Tydens sy opleiding, is hy egter in 'n ander koers gestuur toe daar sommer námens hom besluit is dat hy 'n beter kaartgewer as kassier sou wees - 'n koers waaroor hy nog elke dag sedertdien net dankbaar was.
Na 'n verdere vyf jaar as kaartgewer in Blackjack, Amerikaanse roulette, Texas holdem, Baccarat en ander, het breër horisonne gewink en vandag kyk 'n doodgewone outjie uit Mosselbaai terug op ses jaar van internasionale avontuur waartydens hy al vier kontinente deurgeseil het. Voeg daarby die tweederdes van die planeet, 29 lande en 120 stede wat hy al besoek het en jy het 'n leefstyl waarvan baie mense net kan droom.
Aangesien die skip se casino moet sluit solank daar in 'n bepaalde hawe vertoef word, kry die personeel geleentheid om aan wal te gaan om te verken - 'n voorreg wat hulle dikwels ongewild maak by ander werknemers op die skip, maar vir Franklin is dit die grootste voordeel van sy werk!
"My gunsteling stad is San Francisco met sy vriendelike mense en lekker kos, juis omdat dit my so baie aan my tuisdorp laat dink. Dan volg Hawaii met sy pragtige strande en klimaat wat net soos Mosselbaai s'n is," vertel Franklin.
Hoewel Franklin homself beskou as 'n onafhanklike persoon, is dit nie altyd maklik om so ver van huis en haard te wees nie. Toe sy pa in 2010 skielik oorlede is, het hy die wegwees van sy mense af, baie erg beleef. Tog is die avontuur nog ver van verby af. Hy sê dat hy graag eendag hier op sy tuisdorp sal wil kom aftree en dat sy familie steeds die grootste trekpleister huistoe is.
"My tyd op die skepe is my hele lewe! Ek is lief vir die see en daar is nie mooier sonsondergang as op die oop see nie," vertel Franklin. "Ek ontmoet elke dag nuwe mense en ervaar so baie. Ek sou graag wou hê dat jongmense van Mosselbaai hulle horisonne moet verbreed en hulle drome moet najaag. Wie nie waag nie, wen nie. Druk jou oë toe en neem die stap. Dis my leuse!"
Want wie weet, dalk net kom jou skip.
Franklin in Alaska met een van die wêreld se grootste gletsers in die agtergrond.
ARTIKEL: CORNELLE CARSTENS, MOSSEL BAY ADVERTISER-JOERNALIS