"Ek dink die doel van die Mealies on Wheelies-projek is om bewusheid te skep dat ons mekaar moet help, juis omdat daar soveel mense is wat regtig swaarkry," sê Curt Baker, wat die projek gekoördineer het.
Die Mealies on Wheelies-projek is geskep om nood in die gemeenskap te verlig. "Januarie is dikwels 'n moeilike maand vir baie mense en dis juis dan wanneer hulle veral finansiële druk en gevolgelike broodsgebrek ervaar," vertel Curt.
Op Saterdag, 9 Februarie is etes kosteloos uitgedeel by die Lighthouse Assembly of God-kerk in Uitbreiding 13 - 'n area waar die nood besonder groot is. Hierna is die groep ook na Asla Park, waar nog hulp verleen is.
Die Uitvoerende Burgemeester van Mosselbaai, Raadsdame Marie Ferreira, het ook die geleentheid bygewoon en was diep aangeraak.
Curt en Yolandi Duthie het hulle tyd gegee om die projek glad te laat verloop, maar volgens hom het die onus egter op die gemeenskap gerus om hand in die sak te steek en te gee binne hulle vermoëns. "Ons het albei voltydse beroepe, maar dit smoor nie ons passie vir die gemeenskap nie. Ons soek voortdurend geleentheid om iets te doen vir ander," vertel Curt.
Hierdie span van twee is reeds die afgelope sewe jaar besig met verskeie gemeenskapsprojekte en het tot dusver groot sukses hiermee gehad.
Mosselbaai Begrafnisdienste het die projek finansieel ondersteun en ook van die geleentheid gebruik gemaak om die gemeenskap in te lig oor begrafnisdekking en –kostes. Dit gebeur dikwels dat naasberstaandes met onvoorsiene uitgawes sit en daarom is dit belangrik om voorsorg te tref.
Curt en Yolandi bedank: Mosselbaai Begrafnisdienste, Althea Kiewit, Shaun Ackerman, Lighthouse Assembly of God-kerk, by name pastoor Fostino Jacobs, Antilisia van Wyk, Esme Frans, Iris Joubert, Glenda Quintini, Ryan Quintini, Patricia en Sharon Muller, die Mosselbaai Munisipaliteit, Randall Meyer en Unice Damons, die Broodmandjie, Lucille Valentine en almal wat morele ondersteuning gebied het.

Twee reuse hamburgers is deur Die Broodmandjie geborg om aan hulpbehoewendes opgedis te word.
ARTIKEL: CORNELLE CARSTENS, MOSSEL BAY ADVERTISER-JOERNALIS