MOSSELBAAI NUUS - Hulpwerkers van Arbeidsbediening Mosselbaai het op Maandagmiddag, 3 Oktober in die Mosselbaai Klipkerksaal byeengekom om so 'n bietjie bederf te word met 'n dankseggingsete.
Hierdie mense lewer daagliks 'n diens aan ander.
Van die hulpwerkers se dagtaak om ander met die Woord te bemoedig, begin reeds so vroeg as 06:15 terwyl sommige selfs 100km per dag ry om Arbeidsbediening se werksaamhede te doen. Die groep het die voorreg gehad om na prof Flip Buys se aanmoedigingsboodskap te luister. Professor Buys het predikante by die Universiteit van Potchefstroom opgelei en onder andere ook 'n sendingstasie gestig.
Hierna het Blackie Swart, Arbeidsbediening se voorsitter almal bedank vir die jaar se harde werk.. Arbeidsbediening se hulpwerkers bedien die hele munisipale area. Tot soveel as 200 plekke wat plase, gevangenisse en besighede in die Mosselbaai-, Groot Brak-, Herbertsdale-, Vleesbaai- en Brandwag-area insluit, word besoek.
Na die gebed en opening het Annette Strydom wat ook 'n hulpwerker is, die program gelei met gewyde sang- en klavierspel. Sy is 'n musiekonderwyser, orrelis en begeleier vir die Suid-Kaap Kinderkoor.
Pierre Lamprecht, 'n voltydse geestelike werker het terugvoering gegee oor mooi positiewe gebeure in die werksplekke. Daar is in totaal 80 hulpwerkers wat vrywillig hulle tyd opoffer om Arbeidsbediening se boodskappe tot eer van ons Hemelse Vader uit te dra.
Annette Strydom het die program gelei met gewyde sang- en klavierspel.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'