Gallery Video
MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO - Die 30-jarige Anton Siebert, 'n opvoeder aan Diaz Primêr het die skool se leuse, Word 'n baanbreker, behoorlik gestand gedoen deur onder die top drie in die Mnr Suid-Afrika 2021-kompetisie te eindig.
Siebert is op 6 November in Johannesburg as tweede prins benoem.
Die laaste keer dat 'n Mosselbaaier naam gemaak het in dié kompetisie is toe Dieter Voigt in 2007 die Mnr SA-titel verower het.
Siebert het Dinsdag, 9 November 'n helde-ontvangs gehad toe hy na die weeklange beoordeling by die skool aankom. Personeel het 'n erewag gevorm, terwyl hulle Siebert toegejuig en elk 'n roos aan hom oorhandig het.
"Hy het nog altyd vir sy gemeenskap omgegee, vandat hy hier gekom het sewe jaar gelede. Nie nou net met die Mnr Suid-Afrika goed nie," het 'n trotse kollega aan die Mossel Bay Advertiser gesê. "Hy is baie lief vir die kinders."
FOTOGALERY: Anton 3de in Mnr Suid-Afrika 2021-kompetisie
Gemeenskapswerk
Siebert beskryf sy ervaring tydens die kompetisie as onbeskryflik in terme van selfontwikkeling. Dít wil hy ten goede binne die gemeenskap, veral die skoolomgewing aanwend.
"Die grootste uitdaging was om buite my gemaksone te wees te midde foto- en videosessies.
En natuurlik om die beoordelaars se vrae voor die gehoor en tydens die regstreekse uitsending te beantwoord."
VIDEO: Anton die baanbreker
Daar was drie deelnemers uit die Wes-Kaap, waarvan Siebert die enigste plattelander was. Die ander deelnemers was uit Gauteng, die Oos-Kaap, KwaZulu-Natal en die Vrystaat. So uiteenlopend soos elkeen se komvandaan, was hulle beroepe.
Sy derde plek was 'n verrassing.
"Ek het daarop gefokus om net naam te maak sodat ek die gemeenskap, kinders en skool kan ophef, eerder as om net myself onder die top 5 of top 3 te sien."
Siebert gaan sy nuwe status ten volle benut vir gemeenskapswerk. Hy het 'n besonderse liefde vir diere en reik reeds saam met ander uit na Sonskynvallei deur middel van The Blessing Project Animal and Community Care.
"Deur kinders te leer hoe om vir diere om te gee, leer jy hulle van die belangrikste lewenswaardes wat hulle uiteindelik kan toepas ter bevordering van hulle gemeenskappe."
Skoolfamilie
Met Siebert se aankoms by die skool Dinsdag, was hy merkbaar emosioneel oor die gul ontvangs. Toe die skoolhoof, Genevieve Muller hom vra om 'n paar woorde aan sy kollegas te sê, het hy gesê dat hulle ondersteuning die deurslag gegee het.
"Elke keer as my moed my wou begewe, het ek net gedink aan die video wat julle en die kinders vir my gemaak het en dan het ek onthou vir wie ek dit doen."
Siebert maak geen geheim daarvan dat Diaz se onnies, ouers en leerders vir hom soos familie is nie.
Aan die leerders het hy gesê: "Onthou net dit maak nie saak van waar af jy kom nie. Dit tel nie. Dit hang van jou af waar jy gaan eindig en hoe hard jy gaan werk om te kom waar jy wil wees om jou drome te bereik. Lief vir julle almal."
Siebert het Dinsdag, 9 November 'n helde-ontvangs gehad toe hy na die weeklange beoordeling by die skool aankom.
Siebert maak geen geheim daarvan dat Diaz se onnies, ouers en leerders vir hom soos familie is nie.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'