MOSSELBAAI NUUS - Angel, 'n teefhond wat gedurende die naweek in Sonskynvallei van 'n nare lot gered is, het nou 'n liefdevolle huis gevind.
Anton Siebert, tweede prins in Mnr Suid-Afrika 2021 en ook die stukrag agter Project Blessing wat hy saam met sy vriendin, Michelle Smit bedryf, het Angel Sondag, 1 Mei gered daarvan dat haar ore afgesny word.
Siebert en Smit reik uit na troeteldiere, veral honde in Sonskynvallei.
Hulle samel kos in, sorg vir basiese mediese sorg vir beseerde diere soos nodig, en voed die gemeenskap veral die kinders op om meer sorgsaam teenoor diere te wees.
Tydens hulle weeklikse besoek verlede Sondag, het hulle op Angel afgekom waar iemand haar ore probeer afsny het. Project Blessing was een van die welsynsorganisasies wat tydens die Garden Route 4x4 Expo and Outdoor Show op Bartelsfontein verlede naweek, 'n platform gekry het om bewusmaking vir hulle werk te skep.
Nadat hulle Angel in hulle sorg geneem het, het hulle haar na die ekspo geneem en 'n pleidooi gelewer dat iemand haar tydelik in hulle sorg neem totdat sy 'n permanente veilige huis kry.
Antonette du Preez, een van die uitstallers het oop en toe aangekom en Angel aangeneem.
"Ek het onlangs besluit dat ek bitter graag 'n hond wil hê. Toe hierdie geleentheid oor my pad kom, het ek net geweet, dis bedoel om te wees," het Du Preez aan die Mossel Bay Advertiser vertel.
Angel se ore het beide snymerke aan gehad toe sy gered is. Een gedeelte van haar regteroor het egter intussen afgeval. Andersins, is sy in goeie gesondheid en pas goed aan in haar nuwe huis.
Project Blessing het 'n welkome kontantskenking ontvang tydens die ekspo.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'