MOSSELBAAI NUUS - Met 'n restaurant wat heerlike etes voorsien, 'n gholfwinkel met 'n verskeidenheid produkte om van te kies, 'n goedtoegeruste oefenbaan, 'n pragtige gholfbaan, 'n toegewyde en bekwame raad en uitstekende personeel, is Mosselbaai-gholfklub beslis 'n plek waarop lede en ons dorp trots kan wees.
Die voorreg om lid van so 'n klub te wees, word nie al dag genoeg waardeer nie. Dankie aan almal wat 'n bydrae lewer om ons klub dag na dag net beter en beter te maak.
Die 168 spelers wat Woensdag, 23 Maart aan die individuele stablefordkompetisie deelgeneem het, het mekaar behoorlik opdraand gegee.
André van Wyk se 41 punte was egter net een te veel vir sy moedige teenstanders. Met hom veilig in die wenkampie het Jan Joubert en Hester de Jager sake in die uittel uitgespook. Albei het 40 punte aangeteken, maar Jan kon sy kop net-net voorkry.
Die altyd bestendige Gert Pieterse het op 39 punte ook sy opponente in die uittel getroef. Jarno Loubser en André Barnard se 39 punte het hulle onderskeidelik vyfde en sesde laat eindig. Braaipakke het egter ook vir Jonathon Shelver en Danie van Langelaar gewag en op 38 punte kon hulle nog 'n vuurtjie gaan aanslaan.
Saterdag
Die beterbal stableford op Saterdag, 26 Maart het 164 spelers baan toe gelok. Die kombinasie van Wynand Stander en Heinrich Matthee het vrugte afgewerp en op 46 punte was daar nie twyfel oor wie die wenners sou wees nie.
Chris van den Berg en André Zeelie se aanslag was nie goed genoeg nie en hulle het as naaswenners uit die stryd getree. Gavin Coleman en Johan van den Berg het na die uittel derde op 43 punte geëindig.
Anton Steenkamp en Rob Muller, asook Dawie en Sam Gouws het ook 43 punte aangeteken en in die vierde en vyfde plekke geëndig.
Met die skoolvakansie voor hande en die KKNK-fees op Oudtshoorn, voorsien ons 'n heerlike, besige tydjie hier by ons klub. Voorlopig baie welkom aan ons besoekers en ou vriende.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'