MOSSELBAAI NUUS - André Schwartz het sy aanhangers Saterdagaand met ‘n meesterlike vertoning op hul voete gehad in die Bravo Lounge, die teater wat deel vorm van die Garden Route Casino.
Scwartz het sy vertoning afgeskop met Elton John se ‘Circle of Life’, wat ook die tema van sy vertoning was.
Tussendeur goue gunstelinge het die sanger staaltjies uit sy lewe gedeel, onder meer van sy jongdaekuiers in Hillbrow, tot die plesier van sy nuwe plasie in die Cradle of Mankind.
Sy spottenderwys-verwerking van van sy meer gewilde liedjies; ‘Ek wil jou nooit weer sien nie’ en ‘Met jou in my lewe’, het veral byval gevind.
Staaltjies uit sy deelname in die titelrol aan die Suid-Afrikaanse verwerking van Andrew Lloyd Webber se Phantom of the Opera het die gehoor geboei, asook sy sielvolle verwerking van stukke uit die vertoning.
Té gou was die vertoning verby, maar kon aanhangers kon na afloop van die vertoning die geleentheid gebruik om foto’s saam met hul held te laat neem.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'