MOSSELBAAI NUUS - Bounty Wildsverwerking se borgdag op Woensdag, 1 Junie het weer eens ‘n groot aantal spelers ‘n klomp plesier verskaf.
André Middel (voorgee 15) kon nie vir ‘n beter begin van die maand gevra het nie, want sy uitstekende 40 punte in die individuele stablefordkompetisie het hom as oorwinnaar uit die stryd laat tree.
Kort op sy hakke het Nols Viljoen (voorgee 9) op 39 punte self die pap dik aangemaak om as naaswenner gekroon te word.
Dean Bouwer het getoon dat daar nog niks met sy vernuf skort nie en op 38 punte was die derde plek hom beskore.
Twee spelers het op 36 punte in die uittel betrokke geraak, maar Anton Steenkamp het sy neus net-net voorgekry om die vierde plek in te palm. Les de Jager was vyfde.
Drie spelers, Tjoepie Pretorius, Lambert Roux en Gerhard Pool, het op 35 punte die oorblywende plekke ingeneem. Dankie Divvie vir ‘n heerlike, geborgde dag.
Saterdag
Saterdag, 4 Junie het ‘n heerlike dag die 140 spelers verwelkom. Uitmuntende spanwerk (dufftail) was aan die orde van die dag en op 47 punte was Clive Kaptein en Brown Vorster die vaandeldraers in die beterbal stablefordkompetisie.
Emil Scheepers en Stefan van Vuuren was waardige naaswenners op 46 punte. Daar is ook hard om die derde plek meegeding, maar na die uittel het Chris van den Berg en André Zeelie die beste daarvan afgekom. André Bruwer en Pat Good het die vierde plek hulle s’n gemaak.
Erick Barkhuizen en Elmar Noppe het ook enduit baklei en hulle poging was nie verniet nie, want op 43 punte kon hulle ook nog die vleiskas gaan vul.
Rekordmaand
Mei was weer eens ‘n rekordmaand vir Mosselbaai-gholfklub wat die aantal rondes betref. Lede en besoekers het gesorg dat 3 678 rondes op ons mooi baan voltooi kon word.
Die inskrywingslyste vir ons uitklopkompetisies is op die kennisgewingbord. Bring jou naam so gou as moontlik aan en word deel van ‘n heerlike kampioenskap.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'