MOSSELBAAI NUUS - Ouma Cornelia Griffiths is op 9 November heerlik verras toe raadslid Rosina Ruiters by haar huis opgedaag het om haar 99ste verjaarsdag saam met haar en haar familie te vier.
'n Groter verrassing was egter toe burgemeester, Dirk Kotzé ook daar opgedaag het en boonop vir haar 'n geskenk gebring het.
Ouma Griffiths is nog helder van verstand en het heerlike staaltjies vertel oor haar jong dae.
Volgens haar is sy steeds baie gesond en gebruik geen kroniese medikasie nie. Op 'n vraag oor wat haar resep is vir die lang en gesonde lewe, kom jy dadelik agter dat Ouma 'n besonderse liefde vir haar God het.
"Ken Hom in al jou weë, eer jou vader en jou moeder en wees lief vir almal."
Dan voeg Ouma by "los maar die drank en rokery, dit maak 'n mens dood". Dwelms ken sy nie maar sy sien ook deesdae die snaakse goed wat kinders doen.
Oumatjie word deur een van haar kleinkinders, Linda versorg. Sy en haar oorlede man het sewe kinders waarvan die laaste een haar verlede jaar ontval het.
Raadslid Ruiters voeg by dat as syself die dag bietjie af voel, dan gaan loer sy by Oumatjie in wat haar altyd sal seën met bemoediging uit die Woord. "So is Ouma vir baie 'n koelteboom as die son van die lewe hulle brand," sê Ruiters.
Raadsheer Kotzé, sy komitee en raadslid Ruiters het Oumatjie nog baie gesonde jare toegewens en sien uit om haar 100ste verjaarsdag volgende jaar saam met haar te vier.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'