MOSSELBAAI NUUS - Vanaf sy stigting 27 jaar gelede, beskou die Suid-Kaap Jagters- en Bewaringsvereniging (SJB) junior opleiding as een van sy prioriteite op die jaarprogram en die pas afgelope naweek was geen uitsondering toe die 23ste Veldskool op die Wouter de Vos-skietbaan, naby Klein-Brakrivier aangebied is nie.
Leerders uit verskillende laerskole in die Suid-Kaap het deelgeneem aan die veldskool en het hul laaste naweek van die skoolvakansie verruil vir ‘n onvergeetlike naweek in die veld.
Met aankoms by die kamp moes die 27 studente Vrydagoggend hulle eie tente in gure weer opslaan wat staande moes bly tot en met Sondag.
Die verskillende aktiwiteite het dit ten doel om kinders reeds op jeugdige ouderdom toe te rus om keuses te kan maak rondom gesonde maniere van ontspanning weg van die rekenaar, selfone, televisie en sosiale media, asook die belangrike rol wat die mens in die natuur speel ten opsigte van die bewaring van ons natuurlike hulpbronne en die volhoubare benutting daarvan.
Verder word kinders toegerus om tydens noodsituasies in die veld en by die huis te kan oorleef.
Alle aanbiedings is sover moontlik prakties aangebied en ingeoefen, byvoorbeeld die regte keuse vir ‘n skuiling, verkryging van water vir oorlewing, knope en vaswoele, nodige hand- en noodseine, korrekte nagbeweging, veilige maak van vure, oordeelkundige pak van ‘n rugsak en fyn waarneming met die doel om te bewonder en te bewaar.
Ses inheemse bome is by die skietbaan geplant.
Alles het in spanverwant plaasgevind met groot kompetisie tussen die spanne.
Hulle moes dink, planne maak en self oplossings vind vir probleme en sonder dat hulle eens daarvan bewus was, was hulle besig met leierskapontwikkeling, verantwoordelike optrede tydens noodsituasies, die belangrikheid van groepwerk en kommunikasievaardighede.
Hoogtepunte was die kompeterende skyfskiet met .22’s, tradisionele speletjies, spanwerk, die rol van bye in die natuur en die belangrikheid van kamoeflering vir mens en dier.
Tydens die nagmars is basiese radioprosedure aan hulle verduidelik, ingeoefen en vele meer. Die vier spanne het met sorg ses inheemse bome by die skietbaan geplant.
Die veldkombuis se tannies het gesorg vir lekkernye na elke dag se vol program.
Die veldskool was weer eens ‘n groot sukses, te danke aan toegewyde mentors wat hul kennis en ervaring met die leerders gedeel het.
En onthou, al wat moet agterbly nadat jy in die veld was, is: (en al 27 leerders sal gelyk antwoord) jou VOETSPORE...
'n Tradisionele spanbou-aktiwiteit word beoefen.
Die volgende belangrike datums om te onthou is Saterdag, 21 April – Wildman veldskiet op Nooitgedag naby Oudtshoorn en 5 Mei – skietkliniek vir skoliere met .22 gewere op die Wouter de Vos-skietbaan. Vooraf besprekings vir albei hierdie geleenthede is noodsaaklik.
Vir meer inligting kan die SJB kantoor geskakel word by 044 695 2319 (weeksdae 09:00 – 13:00), Reenen Potgieter - Wildman skietdag 076 168 7421 of Fermi Meyer - bestuurder: Junior opleiding (072 444 8236).
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'