MOSSELBAAI NUUS - Dagboek gerus nou reeds Maandag, 13 Augustus vir die eerste Mossel Bay Advertiser-indaba.
In April vanjaar het die Advertiser berig dat planne beraam word om 'n akwakultuur ontwikkelingsone in Mosselbaai te vestig. Hierdie nuus het heelwat reaksie ontlok, met talle vrae, terugvoer en redenasies wat nie volledig in die koerant aangespreek kan word nie.
Die eerste indaba, 'n gespreksgeleentheid oor die voorgenome akwakultuur ontwikkelingsone, beoog om aan inwoners objektiewe, wetenskaplike inligting te gee oor die presiese voorstelle.
Lesers sal die geleentheid kry om eerstehands by ingeligte sprekers te hoor wat jongste verwikkelinge met akwakultuur is. Daar sal ook geleentheid vir vrae wees.
Woon dus gerus die vergadering by wat in die stadsaal om 18:30 vir 19:00 gehou word. Die sprekers is:
• Ferdie Endemann, spesialis-uitbreidingsbeampte: akwakultuur van die departement van landbou, en
• Kishan Sankar, akwakultuuradviseur van die Operasie Phakisa-afleweringseenheid in die hoofdirektoraat: akwakultuur en ekonomiese ontwikkeling van die departement van landbou, bosbou en visserye.
Die fasiliteerder is prof Erwin Schwella van die Universiteit van Stellenbosch. Via SociaNovus, 'n inisiatief van die Universiteit Stellenbosch se Besigheidskool, is hy nou betrokke by 'n aantal innoverende projekte om die plaaslike ekonomie te stimuleer.
Hy besit ook eiendom in Mosselbaai en is 'n direkteur van die middedorp se spesiale aanslagarea (CID) en het daarom 'n direkte belang by dorpsake.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'