MOSSELBAAI NUUS - Sewe vermeende dwelmsmouse, waarvan vier plaaslik en drie buitelandse burgers is in hegtenis geneem as deel van 'n grootskaalse projek om die greep van dwelms op die gemeenskap van Mosselbaai te breek.
Oor 'n tydperk van vyf maande is verskeie georganiseerde bedekte operasies gehou onder aanvoering van die bevelvoerder van die Da Gamaskop-polisiesone, brig Gerhard Jantjies.
Die verdagtes is aangekeer vir handel in dagga, mandrax en tik.
Die optredes is uitgevoer deur die projekkoördineerder sers JM Spangenberg van die Langeberg K9-eenheid in samewerking met kst Jaede Fiellies.
Op 4 Desember vanaf 08:00-10:00 is 14 dwelmverwante sake geopen met die in hegtenisname van die sewe verdagtes met die ouderdomme tussen 25 en 55 jaar wat vandeesweek voor die hof gebring sal word.
Die sake word ondersoek deur ao Deon Louw van die Da Gamaskop-polisie se speurafdeling.
Tydens vorige optredes is 14 vermeende dwelmhandelaars in hegtenis geneem, waarvan 14 steeds in aanhouding is.
Brigadier Jantjies het die lede betrokke by die projek geloof vir hulle toewyding en sukses.
Konstabels Vuyani Ngaka en Jaede Fiellies saam met kapt Deon Botha van die Da Gamaskop-polisie wat behulpsaam was met die suksesvolle aankeer van vermeende dwelmhandelaars. Afwesig op die foto is sers JM Spangenberg, die projekkoördineerder.
Hy het voorts die gemeenskap gemaan om standpunt in te neem teen dwelmmisbruik deur die polisie van inligting verskaf aangaande dwelmhandelaars.
"Die gemeenskap moet kennis neem dat die misbruik van dwelms die jeug se toekoms vernietig en daarom moet dwelmhandelaars aan die kaak gestel word."
ARTIKEL: CORNELLE CARSTENS, MOSSEL BAY ADVERTISER-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'