MOSSELBAAI NUUS - Die bekende Afrikaanse sterre, Bennie Fourie, Leandie du Randt Bosch en Bouwer Bosch het op Woensdag, 20 Desember op Diasstrand baljaar. Die akteurs is tans op toer om die bekroonde film, Vuil Wasgoed te bemark.
Dié film het onlangs by die kykNET Silwerskermfees in Kampsbaai weggestap met vyf toekennings vir beste regisseur (Morné du Toit), beste redigering (Quinn Lubbe), beste akteur (Bennie Fourie), beste produksieontwerp (Merishen Wessels) en beste klankontwerp en oorspronklike musiek (Benjamin Willem).
Die film is ook aanvaar om te speel by die Portland Internasionale Filmfees.
Vuil Wasgoed
Wim (Bouwer Bosch) en Kevin (Bennie Fourie) droom al vir jare van hulle eie koffiewinkel, maar terwyl hulle wag om dié droom te bewaarheid, werk hulle tydelik in 'n klerewassery.
Die probleem is dat "tydelik" sewe jaar geword het en dat die hoogtepunt van hulle bestaan steeds die leen van hulle kliënte se klere is om snags partytjies te gatecrash.
Hierdie stelsel werk goed.
Kevin is selfs naby daaraan om die liefde van sy lewe te kry, totdat 'n onderduimse juwelehandelaar verraai word, sy vinger afgesny word en dié vinger in 'n baadjiesak by die wassery beland.
Teen hulle wil word Wim en Kevin in 'n gevaarlike onderwêreld ingesleep.
Kort op hulle hakke is twee broers met 'n veluitslag, 'n blinde handlanger, twee top-polisiebeamptes en 'n ongenaakbare verraaier.
En iewers staan 'n skeepsvraghouer met 'n kosbare vrag en wag vir die hele spul om toe te sak.
Vuil Wasgoed, 'n film deur The Film Factory, se draaiboek is geskryf deur Bennie Fourie, word vervaardig deur Danie Bester, Bennie Fourie en Bouwer Bosch, met Morné du Toit aan die stuur van die regie.
Die rolverdeling sluit in Bennie Fourie, Bouwer Bosch, Tim Theron, Stiaan Smith, Nico Panagio, Charlie Bouguenon, Simoné Nortmann, Leandie du Randt Bosch en meer.
Du Randt en Bosch sê die vrolike gees van die vakansiegangers en inwoners aan die Tuinroete het hulle voorwaar tuis laat voel.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'