MOSSELBAAI NUUS - Die raadslid vir die ACDP in Mosselbaai, Jeanette Gouws, het uit die munisipale raad bedank.
Gouws het op Donderdag 11 September aangekondig dat sy daardie dag haar bedanking ingedien het. Sy dien al sedert 2016 op die raad.
Gevra oor wat tot hierdie besluit gelei het, het sy gesê dit is die Here: “Ek glo God het my in hierdie werk ingeroep, en ek glo nou Hy roep my vir ’n seisoen uit.”
Sy het haar opregte dank teenoor die ACDP-lede, -kiesers en -ondersteuners uitgespreek, asook die party se leierskap vir die vertroue wat hulle in haar geplaas het.
“Dit was ’n voorreg om die inwoners van Mosselbaai te dien, ongeag vir wie hulle gestem het.
“’n Spesiale dankie aan my man, kinders, familie en vriende vir hulle konstante ondersteuning, opoffering en aanmoediging gedurende hierdie nege jaar in die raad van Mosselbaai.”
Wat ná die bedanking op haar wag is nog onduidelik.
Gouws sê Eugene Kiewit sal nou die ACDP-sitplek in die raad inneem. Kiewit het dit ook aan Mossel Bay Advertiser bevestig. “Hy het in 2011 en 2016 as ’n kandidaat vir die ACDP gestaan. Baie bekend in Mosselbaai. Sterk leier,” sê Gouws.
Navrae is ook aan die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) en die Mosselbaai-munisipaliteit gestuur om Kiewit se toekomstige rol te bevestig.
*Die munisipaliteit het bevestig Gouws se bedanking is op 11 September ontvang. Hy sê die bedanking is na die OVK verwys en daar word tans op aanwysing van die nuwe ACDP-raadslid gewag.
Die OVK se terugvoer sal bygevoeg word wanneer dit ontvang word.
*Die artikel is aangepas om die munisipaliteit se kommentaar by te werk.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’