MOSSELBAAI NUUS - Vir baie Mosselbaaiers, veral die ouer garde, is die naam Abe Daniels sinoniem met musiek - veral as die Bay Jazz Band se naam in dieselfde asem genoem word. Dié legendariese saksofoonspeler, is verlede week op 6 Junie op 84-jarige ouderdom oorlede.
Sy broerskind, Joey Daniels, voormalige skoolhoof van Ridgeview Primêre Skool en sy susterskind wat hy sedert vierjarige ouderdom na haar ma se afsterwe as sy eie grootgemaak het, Jean France, meen dat daar baie ander lede van die gemeenskap is, wat hulle oom eintlik ten beste kan beskryf.
Abraham Daniels se geboortehuis was in Klipperstraat, Mosselbaai, maar met die geforseerde verskuiwings onder die Groepsgebiedewet, het die gesin hervestig in Suikerbekkiestraat, Tarka waar Abe, soos almal hom geken het, tot sy dood verlede week gebly het.
Jean vertel dat haar oom vanmelewe se dae eers by die Jode gewerk het. Carina Wiggill van die Mosselbaai Erfenisvereniging onthou hom so - op sy fiets, as 'n stil man met 'n vriendelike glimlag wat daagliks vir Raby's oftewel mnr Rabinowitz se winkel koerante afgelewer het.
Later, vertel Jean, het hy by die lighuis eers in Mosselbaai, toe in Bisho en in Kommetjie gewerk
Bay Jazz Band
Die Daniels-gesin, bestaande uit sewe kinders, het gereeld aan huis saam musiek gemaak wat tot die ontstaan van die Bay Jazz Band gelei het. Volgens Joey het hulle die land vol getoer en was hulle tot in die destydse Suidwes-Afrika, vandag Namibië.
Hulle het, volgens Joey, 'n unieke styl van langarmdansmusiek gespeel. Elke naweek meen hy is daar musiek gemaak. "Die mense het met verwagting uitgesien as hulle êrens sou speel en het dan moeite gemaak om daar uit te kom."
Hulle het 'n langspeelplaat, asook 'n paar enkelsnitte gesny. Abe het ook gereeld in die kerk opgetree en veral trots gewees op die aantal musikante wat as groentjies deur hom touwys gemaak is. Volgens Jean het hy tot so twee jaar gelede nog saksofoon gespeel. Sy sê hy het so 'n oor vir musiek gehad dat hy in die onlangse verlede nog by 'n famlietroue die orkes gekapittel en op hulle foute gewys het.
Die plaaslike jong saksofoonsensasie, Kaleb Cupido, is ook 'n afstammeling van Abe, vertel Joey.
Vurige sportman
Joey meen sy oom was 'n "fanatiese" ondesteuner van die Spring Roses-rugbyklub. Hy het oral waar hy kon saamgereis vir wedstryde. Die bekende Spring Roses-lied is glo ook van hom afkomstig. Boodskappe van simpatie wat Joey ontvang het, spreek van die gemeenskap se respek vir Abe as sportman en die blywende indruk wat hy gemaak het. "Die breë gemeenskap het vir hom respek gehad vanweë sy lewenservaring."
Jean sê haar oom Abe was baie gesteld op netheid en stiptheid. "Hy was 'n streng man van sterk waardes. Hy het as 'n jongman verantwoordelikheid vir my grootmaak geneem en sy eie moeder tot haar doodsdag versorg."
Abe Daniels se begrafnis is môre, 16 Junie om 10:00 by sy huis in Suikerbekkiestraat 17 en daarna vanuit die Volkskerk in Uitbreiding 8.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'