MOSSELBAAI NUUS - ’n Saak van aanranding en crimen injuria is by die Da Gamaskop-polisiestasie op Mosselbaai geopen ná ’n woordewisseling op Maandag, 7 April, wat na bewering rassistiese uitlatings behels het.
Die voorval het na bewering in 'n parkeerterrein op Voorbaai plaasgevind.
Die klaer, ’n bruin vrou, het haar wedervaringe met Mossel Bay Advertiser gedeel.
Sy sê elke oggend help sy ’n rolstoelgebruiker in die parkeerterrein om uit hul kar te klim.
Gewoonlik plaas sy oranje verkeerskegels in ’n laaisone in die parkering voor haar werk se gebou om die spasie vir die persoon, wat dan binnekort opdaag, te reserveer.
Dié betrokke oggend het daar glo ’n ander motoris in die gereserveerde spasie geparkeer en die verkeerskegels verwyder.
Sy sê die bestuurder, ’n man, het by ’n winkel langsaan ingestap, en sy is agterna om hom te vra om sy voertuig te skuif. Sy sê sy het aan hom verduidelik hoekom die parkering beskikbaar gehou moet word.
Die bestuurder het glo op haar begin vloek. Sy erken dat sy daarop reageer het deur hom met dieselfde vloekwoorde toe te snou voordat sy by die winkel uit is.
Die klaer sê sy is later weer terug om die bestuurder weer te vra om sy motor te skuif.
Hy het haar glo weer begin vloek. Sy beweer toe hy verby haar stap, het hy haar ’n h*tn*t genoem.
Die klaer beweer ook die man het in haar gesig gespoeg en na bewering met een van die verkeerskegels gegooi.
Die Advertiser het intussen verneem dat die bestuurder op sy beurt ook ’n saak teen die klaer oopgemaak.
Die twee sal op Maandag, 26 Mei, in die Mosselbaai-landdroshof verskyn.
Die klaer verkies om anoniem te bly. Die bestuurder kan nie genoem word voordat hy in die hof verskyn het nie.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’