MOSSELBAAI NUUS - Sommige lede van die Mosselbaai-gemeenskap het onlangs hul ontsteltenis uitgespreek oor die feit dat 'n bejaarde inwoner van Marlinstraat, William Jacobs, in die munisipale hof moes verskyn.
Jacobs, algemeen bekend as oom Willem, is reeds 94 jaar oud.
Die staatsaanklaer het gesê Jacobs is skuldig aan die oortreding van bouregulasies weens die oprig van strukture ('n gereedskapskuur en 'n afdak) sonder die goedkeuring van die plaaslike owerheid.
Die landdros het vir Jacobs gesê voor hy pleit het hy drie opsies; om 'n prokureur aan te stel, sy eie verteenwoordiging te behartig, of vir regshulp aansoek te doen.
Ben October, 'n gemeenskapslid wat namens Jacobs voor die hof gepraat het, het gesê Jacobs sal regshulp kry en dat hy onskuldig op die aanklagte teen hom pleit.
Die saak is uitgestel tot 15 Augustus.
Ben October, William Jacobs en Kevin Williams buite die munisipale hof.
Met 'n besoek aan Jacobs se woning het Jacobs en October aan die Mossel Bay Advertiser gesê die strukture is al etlike jare op Jacobs se erf en daar was nooit voorheen klagtes daaroor nie.
Hulle beweer die klagtes het gekom ná Jacobs navraag by die munisipaliteit gedoen het oor bouwerk van sy buurman.
By navraag oor beide Jacobs en die buurman se situasies, het die Mosselbaai-munisipaliteit voor die hofverskyning gesê: "Die aangeleentheid handel oor bouverwante oortredings. Die saak is uitgestel vir nakoming en dien weer voor die hof op 16 Julie."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’