Update
MOSSELBAAI NUUS - "Die mense en wêreld is wreed. Ek is stukkend oor mense se opinies, mense wat niks weet óf verstaan hoe 'n pedofiel te werk gaan nie."
Só het die ma van twee seuns van Hartenbos die afgelope week gesê nadat sosiale media verbruikers kritiek teenoor haar gelewer het omdat sy nie bewus was van wat met haar seuns gebeur het nie.
Die Mossel Bay Advertiser het berig oor haar twee kinders, wat oor 'n tydperk van vyf jaar, bykans daagliks deur haar 46-jarige vriend verkrag en seksueel aangerand is.
Die ma het eers in 2019 van die voorval bewus geword en dadelik 'n saak by die plaaslike polisie aanhangig gemaak.
Getuienis wat in die Oudtshoorn-streekhof gelewer is, het daarop gedui dat die seuns, toe 10- en 11-jaar-oud, oor die misdrywe stil gebly het omdat hulle onder andere gedreig is.
Die seuns wou ook nie hê hulle: "mamma moet seerkry nie".
Die beskuldigde, wat in 'n stadium daarop aangedring het dat hulle hom "pappa" moes noem, het ook by geleentheid die een seun se mond toegedruk. Dit is slegs van die skokkende getuienis wat in die hof aangehoor is tydens die verhoor van die beskuldigde, wat deurgaans volgehou het hy is onskuldig. Die man se identiteit is aan die Mossel Bay Advertiser bekend, maar word weerhou om die identiteite van die seuns, wat nou tieners is, te beskerm.
Die verkragtings en seksuele aanrandings het tussen 2014 en 2019 by die seuns se huis in Mosselbaai óf by die beskuldigde se huis op Hartenbos plaasgevind. Dit het dikwels gebeur wanneer die kinders alleen in sy teenwoordigheid was.
Dade aangemeld
Die seuns het getuig dat die beskuldigde hulle dikwels wakker gemaak het om verskeie dade met hulle te pleeg en ook dikwels een van hulle voor die ander verkrag of seksueel aangerand het. Hulle moes hulle klere uittrek en saam met hom in die bed lê.
Die beskuldigde het ook vir die een seun gesê hy is sy "gunsteling" en dat dit die rede is hoekom hy meer gereeld met hom, as met sy boetie, die dade gepleeg het.
Die voorval het op die lappe gekom toe die ma een van die seuns in sy kamer gekonfronteer het nadat sy pornografie op sy selfoon gekry het. Die seun het vir haar gesê dat dit (die pornografie) was wat die beskuldigde gereeld aan hom en sy boetie gedoen het.
Die seuns se ma het 'n saak by die polisie aanhangig gemaak en die ondersoekbeampte in die saak, ao Alistair Rezant, het die beskuldigde op 23 Oktober 2019 op Hartenbos in hegtenis geneem.
Die beskuldigde is verlede week tot altesame 90 jaar gevangenisstraf gevonnis, waarvan hy vir 70 jaar effektiewe tronk-straf ontvang het. Dit is een van die swaarste vonnisse nóg op die kerfstok van die Mosselbaai polisie se eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele misdrywe.
Vonnis
Die beskuldigde sal minstens 35 jaar tronkstraf moet uitdien voor hy vir parool in aanmerking sal kom.
Hy het sy vonnis emosieloos aangehoor.
Die ma van die slagoffers het in 'n slagoffer-impakstudie gesê dat haar en die seuns se vertroue in die samelewing geknou is en dat sy hom nooit sal kan vergewe vir die bose dade wat hy met haar kinders gepleeg het nie.
Vorige artikel: Verkragtingslagoffers bang 'mamma kry seer'
Bevelvoerder van die Mosselbaai polisie se eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele misdrywe, kapt Franco Bestbier saam met die ondersoekbeampte in die saak, ao Alistair Rezant, kort nadat die 46-jarige beskuldigde tot altesaam 90 jaar gevonnis is.
Ondersoekbeampte, ao Alistair Rezant, en aanklaer in die saak, Anzelle Laubscher.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’