MOSSELBAAI NUUS - 'n Vyf-en-sewentig jarige inwoner van Diasstrand is in die vroeë oggendure, op 22 Januarie deur twee inbrekers in sy woning oorrompel.
Volgens die polisie het die bejaarde man om ongeveer 03:00 van 'n geraas in sy huis wakker geword. Hy het ondersoek ingestel en die twee verdagtes op heterdaad betrap.
Die slagoffer het met die verdagtes in 'n geveg betrokke geraak, waarna hulle met gesteelde selfone en ander items op die vlug geslaan het. Hulle het swart klere aangehad.
Niemand is tydens die voorval beseer nie.
Enigeen met inligting wat die polisie met die ondersoek kan bystaan word versoek om die ondersoekbeampte in die saak, sers Donovan Geswindt te kontak (082 469 7583).
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'