MOSSELBAAI NUUS - Toe 'n groep vroue onlangs hulle stapskoene aantrek om die St Blaize-staproete te gaan kafdraf, was die 71-jarige Sis Kietsie tot hulle verbasing ook voor in die koor.
Gillian Janssen, sekretaris van die Mossel Bay Community Soup Drive, vertel dat Sis Kietsie, oftewel Fransina Dweba die hele pad, 13 km, vanaf Danabaai tot by die Punt bygehou het.
"Daar was 'n paar plekke waar dit moeilik gegaan het, maar dan het sy op haar stapstok geleun. Net haar bene en knieë is seer. Sy sê sy sal dit enige tyd weer doen."
Vir Paasnaweek beplan die vroue om vanaf Klein-Brakrivier tot Diasstrand te stap en Fransina meen sy gaan weer meedoen.
"Sy is heeltemal gesond en sien kans vir einge uitdaging. Dis 'n sterk vrou dié."
Sy is oorspronklik van Molteno, maar woon reeds etlike jare op Mosselbaai.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'