Gallery
MOSSEL BAY NEWS - Vandale het laat Woensdagmiddag, tussen 17:00 en 19:00, minstens ses nuwe huise in Sonskynvallei beskadig.
Na wat berig word, sou hierdie huise eersdaags aan begunstigdes van Sonskynvallei oorhandig geword het.
Na wat verneem word, beloop die skade minstens R200 000. Na verwagting sal ten minste een van die huise oorgebou moet word.
Dit blyk ‘n groep mense, onder meer jeugdiges, het buitebande buite en binne sommige van die huise brandgesteek en erge rookskade is onder meer aangerig. Daarbenewens is van die huise met verf bemors, ruite is uitgebreek en by sommige huise is deurkosyne beskadig in die proses om toegang tot die huise te bekom.
Lede van die Openbare Orde eenheid van George en die Da Gamaskopkop-polisie het tot ongeveer 22:00 ‘n teenwoordigheid in die woongebied gehandhaaf om die orde te herstel.
Die Da Gamaskop-polisie ondersoek ‘n saak van openbare geweld. Enige persoon met inligting word versoek om die ondersoekbeampte, ao Arlene Stokes (044 606 2200) te kontak. Inligting sal streng vertroulik hanteer word.
‘n Week gelede het die Wes-Kaapse LUR vir menslike nedersettings, minister Bonkinkosi Madikizela die titelaktes vir hul nuwe huise aan verskeie begunstigdes in Sonskynvallei oorhandig.
Vroeg Donderdagoggend het Mosselbaai se uitvoerende burgemeester, raadslede en senior beamptes die area besoek om ‘n skadeberaming te doen.
Die Mosselbaai Munisipaliteit is in die proses om inwoners van Powertown na Sonskynvallei te hervestig omdat die area waar Powertown tot stand gekom het, binne ‘n vloedvlakte geleë is.
ARTIKEL: NICKEY LE ROUX, MOSSEL BAY ADVERTISER NUUS REDAKTEUR
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'