MOSSELBAAI NUUS - Die polisie op Groot-Brakrivier het vyf verdagtes in hegtenis geneem nadat daar tydens die vakansieseisoen by meer as 28 wonings in die gebied ingebreek is. Inwoners van Reebok, Fraaiuitsig, Tergniet, Hersham, Outeniquastrand asook Pienaar- en Bothastrand het onder die huisbrake deurgeloop.
Die feit dat diewe ook bewoonde huise geteiken het, het beide die polisie en inwoners laat regop sit.
Die polisiewoordvoerder, sers Chantel Marais sê huisbrake gedurende Desember 2017 het heelwat toegeneem in vergelyking met die vorige jaar.
Inbrake by huise teen die kus het meestal plaasgevind op Donderdae, Vrydae en Saterdae tussen 22:00 en 05:00. In die voorvalle waar bewoonde huise geteiken was, het inwoners nie wakker geword nie en eers teen daglig besef dat goedere uit die wonings gesteel is.
Volgens sers Marais het alarmstelsels wel die diewe afgeskrik maar hulle nie verhoed om steeds toegang tot die wonings te probeer verkry nie.
Volgens sers Marais is die meeste wonings wat geteiken is naby die N2 of die R102-pad geleë.
Inbrekers se modus operandi was om toegang tot die wonings te verkry deur die vensters te verwyder, skuifdeure oop te forseer of om deur oop vensters te klim. Skootrekenaars, selfone, tabletrekenaar en televisies is gesteel, maar niemand is tydens die huisbrake beseer nie.
Volgens sers Marais het die getal huisbrake sedert 5 Januarie weer begin afneem.
"Sigbare polisiëring was ons hooffokus gedurende die feesseisoen. Dit bly vir ons 'n prioriteit om 'n veilige omgewing aan vakansiegangers en inwoners te verseker."
Sersant Marais sê die polisie het gereelde padblokkades gehou waar voertuie deursoek is met die oog op die vind.gesteelde eiendom.
"Die buurtwagte se hulp, sigbaarheid en ondersteuning het beslis 'n groot impak gemaak op ons misdaadsyfer en die voorkoming van misdaad."
Intussen waarsku sers Marais inwoners om nie hul sekuriteitsmaatreëls te verslap nie.
"Misdaad ken nie 'n datum nie. Wees sekuriteitsbewus en meld enige verdagte voertuie of persone aan die polisie."
Veiligheidsmaatreëls
- Maak seker dat jou woning veilig en gesluit is,
- Indien jou sleutels wegraak, vervang die slotte en kry nuwe sleutels.
- Sorg vir goeie beligting rondom jou woning.
- Ken jou bure. Ruil foonnommers uit en hou 'n ogie oor mekaar se wonings.
- Kontak die SAPD, buurtwag of gebruik jou alarmknoppie wanneer jy onraad vermoed.
- Sorg vir genoegsame sekuriteit, diefwering, veiligheidshekke, alarmstelsel en omheining.
- Ken alle noodnommers. Leer ook jou kinders om die nommers te skakel.
- Moet nooit sleutels in deure laat nie.
- Indien daar by jou woning ingebreek word, vervang onmiddelik die slotte.
- Installeer slotte by skuifdeure.
- Sorg dat jou gordyne saans toegetrek word.
- Moenie tuingereedskap buite laat rond lê nie. Dit is gereedskap wat vir inbrake gebruik kan word.
- Moenie waardevolle items in die huis laat rondlê nie.
- Beloon jou werknemers vir bruikbare inligting wat misdaad kan voorkom,
Kontak Groot-Brakrivier SAPD (044 620 3361) of die Midbrak-buurtwag (076 666 8934).
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'