MOSSELBAAI NUUS - Altesaam 45 matrieks van ses plaaslike hoërskole in Mosselbaai het op 1 Februarie meriete-toekennings in die Mosselbaai-stadsaal ontvang.
Die toekennings was tydens die kantoor van die burgemeester se jaarlikse geleentheid om matrieks wat verdienstelik presteer het in die eindeksamen te vereer.
Toekennings wat tydens die geleentheid oorhandig is, was nie net aan diegene wat 'n A-gemiddeld as hulle finale punt behaal het nie, maar ook aan diegene wat bo uitdagende omstandighede uitgestyg het om te skitter.
Skoolhoofde het ook merietesertifikate ontvang op grond van die matriekslaagsyfer wat hulle skole behaal het.
Verskeie matrieks kon dit nie bywoon nie, aangesien hulle reeds as jong werkende volwassenes of studente aan tersiêre instellings hul toekomsdrome begin najaag het.
Raadsheer Bayman het die matrikulante verwelkom. Hy het gesê: "Vandag neem julle gesamentlik afskeid van onderwysers en mentors wat julle lesse bykomend tot dié wat in die sillabus vervat is, geleer het."
Volgens die munisipaliteit het Mosselbaai vanjaar uitstekende resultate ten spyte van baie uitdagings, gelewer. Mosselbaai het 'n 92,6%-slaagsyfer in die 2022-matriekeksamen behaal. Dit is 'n verhoging van 14,1 persentasiepunt meer as verlede jaar.
Boonop het 55% van hulle kandidate universiteitstoelating behaal – baie beter as die 40,2% van verlede jaar. Die skole het dit alles gedoen terwyl die aantal kandidate wat geskryf het van 204 tot 229 verhoog is.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'