MOSSELBAAI NUUS - Eddie Jantjies, 'n veteraan-beampte in die direktoraat gemeenskapsdienste, het genot geput uit sy 14 610 dae in diens van die Mosselbaai-munisipaliteit.
Tydens 'n kort, informele funksie het kollegas Eddie die kuns afgevra vir sy 40-jaar mylpaal as blymoedige munisipale amptenaar.
Hy praat met heimweë van die "ou dae" toe dinge gans anders in munisipaliteite gedoen is. Destyds het die munisipale personeel saans die grassnyers by inwoners se huise gelaat net om die volgende dag weer verder te kon werk om die dorp netjies te maak. Eddie het van 'n trekkerdrywer tot aanvanklik die eerste toesighouers van kleur in die administrasie gevorder.
"Ek het elke geleentheid benut om te leer. Boonop het ek van geen taak weggedeins nie, want uit elke geleentheid het ek wyser geword."
Sy spangenote het met deernis na sy staaltjies oor die ou dae geluister. Die direkteur van gemeenskapsdienste, Elize Nel het Eddie aangemoedig om 'n boek oor sy wedervaringe te skryf.
"Baie dankie vir jou lojaliteit en vir jou entoesiastiese bydraes oor die afgelope 40 jaar om van Mosselbaai-munisipaliteit die beste plaaslike owerheid in die land te maak."
Senior bestuurder (tuinbou en rekreasie), Abrie Nel het sy kollega en vriend vir sy toewyding en ondersteuning oor die afgelope jare bedank.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'