MOSSELBAAI NUUS - Vier verdagtes wat na bewering verskeie winkels op Groot-Brakrivier beroof het, het op Maandag, 13 Augustus in die Mosselbaai-landdroshof verskyn.
Polisiewoordvoerder, sersant Chantel Marais sê die polisie het die afgelope naweek op 'n wenk gereageer nadat duur bottels wyn en whiskey vanuit 'n drankwinkel op die dorp gesteel is.
Die polisie het 'n Toyota met ses insittendes naby Klein-Brakrivier van die pad afgetrek en op die gesteelde drank, asook horlosies, klere, 'n sak vol sjokolade en 30 pare skoene afgekom. Marais sê twee van die verdagtes kon daarin slaag om weg te hardloop.
Sy sê twee vroue en twee mans is op die toneel gearresteer en is aangekla van die besit van vermoedelik gesteelde eiendom.
Die polisiebeamptes van Groot-Brakrivier staan by die gesteelde goedere.
Die diewe het 'n soettand gehad aangesien 'n hoop sjokolade ook gesteel is.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'