Streeklanddros Neels Nortje het Ndoda, in 'n stampvol hofsaal, op aanranding met die opset om ernstig te beseer, twee klagte van roof met verswarende omstandighede, vier aanklagte van verkragting, en menseroof skuldig bevind.
Drie slagoffers is deur Ndoda tussen 2011 en 2012 geweldadige verkrag. Hy het ook vorige veroordelings en het al voorheen gevangenisstraf uitgedien.
"U slagoffers was weerlose vroue wat geen kans teen u gehad het nie. Dit is duidelik vir die Hof dat u min of geen respek vir ander mense, en veral vroue het nie," het Landdros Nortje aan die beskuldigde voorgehou.
Hy het bygevoeg dat dit die Hof se plig is om die gemeenskap te beskerm en dat "die gemeenskap siek en sat is vir sulke tipe misdrywe". Boonop was die beskuldigde in al die voorvalle gewapen.
Die beskuldigde was, soos met al sy ander hofverskynings, uitspattig aangetrek in 'n pienk langmou hemp en 'n wit baadjie. Hy het tydens die verrigtinge verveeld voorgekom en het met sy kop op sy hande gerus. Tydens vonnisoplegging het hy egter in trane uitgebars.
Alhoewel die Mossel Bay Advertiser die Hof se toestemming verkry het om foto's van die beskuldigde in die hofsaal te neem, wat aan sekere voorwaardes onderworpe was, het die beskuldigde sy gesig met sy baadjie toegemaak en die koerantfotograaf, Dave van der Merwe, trompop geloop toe hy na die aanhoudingselle geneem is.
Een van sy slagoffers het buite die hof aan die Advertiser genoem dat sy verlig is dat die saak nou verby is en dat sy nou met haar lewe kan aangaan.
Die staatsaanklaer was me Anja Grassman.

Die ondersoekbeamptes in die saak, Kst Jessica Josephs en Ao Tata Marks van die Mosselbaai GKS-eenheid, wens mekaar buite die hofgebou geluk met die sterk vonnis. Foto: Dave van der Merwe
ARTIKEL: LOUISE KARSTEN, MOSSEL BAY ADVERTISER-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'