Update
MOSSELBAAI NUUS - Die liggaamsdele van drie personeellede van die Burgerlugvaartowerheid (BLO) wat op Donderdag, 23 Januarie naby Groot-Brakrivier dood is, is tydens 'n intensiewe poging deur reddingspanne op Vrydag, 24 Januarie na bykans ses ure herwin.
Kaptein Thabisa Tolo (49), Tebogo Lakalakala (33), eerste offisier en Gugu Mguni (36), 'n vluginspekteur is in die voorval dood.
Wrakstukke van 'n Cessna Citation-vliegtuig, wat in 'n bergagtige gebied naby die Robinsonpas neergestort het en Donderdagmiddag gevind is, is vanuit die lug opgemerk. Swak weerstoestande het pogings belemmer om die terrein te bereik.
Die vliegtuig, wat gebruik word vir lugvaartinspeksies en wat aan die Burger Lugvaartowerheid behoort, het omstreeks tienuur vanaf die George-lughawe opgestyg, maar lugverkeerbeheer het kort daarna met dit kontak verloor.
Kaptein Thabiso Tolo
Vluginspekteur, Gugu Comfort Mguni.
Eerste offisier, Tebogo Lekalakala. Foto's: Verskaf
Omstandighede onbekend
Intussen word die omstandighede van die vliegramp deur die BLO self ondersoek. Die oorsaak van die vliegramp is nog nie bekend nie maar na wat verneem word, word die vliegtuig reeds die afgelope 20 jaar deur die BLO as 'n kalibrasievliegtuig gebruik, en is in November geskut nadat rook by die kajuit uitgeborrel het.
Die vliegtuig het in swak weersomstandig-hede opgestyg en volgens inligting op 'n hoogte van 3 990 voet gevlieg. Kenners meen egter dit is slegs veilig om in die bergagtige gebied op 'n hoogte van 8 000 voet te vlieg en dat kapt Tolo dit nie gedoen het of die vliegplan gevolg het nie.
Op Vrydag het 'n EMS-reddingshelikopter bykans sewe keer op die rugbyveld op Friemersheim geland om nog reddingswerkers op te pik. 'n Span van minstens 30 mense het saamgewerk om die liggaamsdele te herwin. Uitvoerende hoof van BLO,
Poppy Khoza het in 'n verklaring inwoners gevra om nie oor die oorsaak van die vliegramp te bespiegel nie, en sê gereelde instandhoudingswerk is aan die vliegtuig gedoen.
Met die Jonkersberg in die voorgrond en die Outeniquaberge agter het die reddingshelikopter verskeie vlugte na die ongelukstoneel geneem sowat 6km van Friemersheim om reddingswerkers en ondersoekspanne na die toneel te vlieg. Foto: Jannie du Plessis
Vliegspan
Khoza sê die vliegspan was hoogs ervare en onder net 'n handvol spesialis-bemanningslede wat hierdie tipe werk in Suid-Afrika kon doen. Kaptein Thabiso Tolo is 'n ervare vlieënier met 4 959 vliegure. Hy was die eerste swart kaptein van die vluginspeksie-eenheid.
Eerste offisier, Tebogo Lekalakala het 1 050 vliegure en het onder meer vliegopleiding in die buiteland ontvang. Vluginspekteur Gugu Mguni het 1 300 vliegure gehad en het onder meer opleiding in Frankryk ondergaan.
'n Verslag oor die ongeluk moet binne 30 dae uitgereik word.
Die sak met liggame word hier in die bakkie van die forensiese patalogie gelaai nadat al drie die oorledenes se liggame op die ongelukstoneel herwin is.
Foto's: Jannie du Plessis
Lees vorige artikels:
- Plane crash victims identified
- Plane crash: Recovery operation underway
- Update: Plane Crash near Great Brak River
- Soektog na vliegtuig hervat more
- Latest plane crash update
- Update: Missing aircraft
- Missing aircraft: Search underway near Mossel Bay
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'