Gallery Video
MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO - Die Nomads Motorfietsklub van Kaapstad het die 2023 Buffalo Rally verlede naweek tussen 27 en 29 Oktober, vir die derde keer by die ATKV Hartenbos-oord aangebied, wat ook die 16de aanbieding op Mosselbaai was.
Verlede jaar het die Buffalo Rally sowat 4 200 motorfietsryers na Mosselbaai gebring.
FOTOGALERY: Buffalo Rally verskaf groot vreugde
Hierdie jaar was daar opvallend minder.
"Vanjaar was daar ongelukkig net 2 132, minder as die helfte van ons gewone opkoms. 'n Groot probleem is die ekonomie, petrolprys ensovoorts. Die weer was nie vriendelik teenoor ons nie en ek dink ook die padwaardigheid sertifikate het die opkoms beïnvloed," het organiseerder, Luderick Jacoby, aan die Mossel Bay Advertiser gesê.
In die tent by die ATKV-amfiteater het verskeie orkeste die besoekers vermaak en baie van die besoekers het die karavaanpark beset met tentjies vir slaapplek. Ligte reën Vrydagaand was egter nie so aangenaam nie en het die nat T-hemp kompetisie in die hooftent die manne warm gehou.
Die massarit het om 11:00 Saterdag by die ATKV-amfiteater begin met 'n massarit na die Punt en terug na Hartenbos via die N2. Burgemeester, Dirk Kotzé, het saam met Wally Brandt, een van organiseerders, soos in die verlede die voortou geneem.
Saterdagmiddag het verskeie van die motorfiets-waaghalse die toeskouers vermaak in Paardekraalweg met fluitende bande en stukkies rubber wat spat. Hierdie waaghals-vertoning is altyd een van die hoogtepunte van die naweek. Dis hier waar mens sien hoe 'n duur agterband van 'n motorfiets binne sekondes in net stukkies rubber en staal verander.
Die Buffalo Rally asook die Ironman 70.3 en die Mighty Men bring volgens die Mosselbaai-munisipaliteit meer as net 'n ekonomiese inspuiting en word tydelike werksgeleenthede ook geskep. Verlede jaar het die Ironman-kompetisie sowat 2 000 deelnemers na die dorp gebring. Die Ironman vind op Sondag, 19 November, plaas en die Mighty Men Vrydag, 17 Desember, tot Sondag, 19 Desember.
In vergeleke met vorige jare, waar daar al noodlottige voorvalle was, het die munisipale verkeersdepartement berig dat daar geen insidente tydens vanjaar se Buffalo Rally, behalwe enkele geraasoorlasklagtes, aangemeld is nie.
Geskiedenis
In Maart 1969 het 'n groep Nomads gekamp by Silversands naby Robertson oor die Paasnaweek, en dit was hier dat die idee vir die Buffelbyeenkoms ontstaan het. Oor 'n kampvuur is die plan vir 'n nasionale motorfietsbyeenkoms bespreek deur Egon Mendel, Tony Bayley, Peter Flor, Tony Ferguson en Ray Bergman, wat een van die sewentien lede was wat hierdie gebeurtenis bygewoon het en wie se name op 'n papierbord verskyn, wat as die amptelike aanwesigheidsregister gedien het.
Daarna het dié gewilde byeenkoms op verskeie dorpe en in stede soos Bathurst, Aliwal Noord, Oudtshoorn, Bloemfontein, Port Elizabeth en Maseru plaasgevind. Sedert 2005 speel Mosselbaai gasheer vir die Baffalo Rally en sedert 2019 behalwe vir 2020, as gevolg van COVID, is die ATKV-oord op Hartenbos as hoofkantoor vir dié byeenkoms gebruik.
VIDEO - Nomads Motorfietsklub 2023 Buffalo Rally Hoogtepunte (Video: Jannie Du Pessis).
Doughnuts was daar genoeg en bewyse daarvan kan steeds op die teeroppervlak gesien word in Paardekraalweg. Foto: Sharlton Groenewald
Piet Terblanche was die wenner van die gelukkige trekking van R135 000 met Amity Webster van Kaapstad wat as mej Buff aangewys is die afgelope naweek. Foto: Grey Stopforth
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’