Gallery Video
MOSSELBAAI NUUS EN VIDEO - Mosselbaai se uitvoerende burgemeester, raadsheer Harry Levendal, het onderneem om 2018 die Jaar van Benevolent Park te maak.
Waar moontlik en vir soverre dit binne die wetlike raamwerk waarbinne die munisipaliteit funksioneer val, het die burgemeester gevra dat probleme wat ondervind word, dringende aandag moet geniet en dat die munisipale beamptes deurentyd betrokke moet bly om op te volg op probleme.
Lede van die bestuur en beheerraad van Benevolent Park-ouetehuis het Donderdag die uitvoerende burgemeester van Mosselbaai, raadsheer Harry Levendal by hul tehuis verwelkom.
Die burgemeestersbesoek was 'n informele kuiertjie om uit te reik na die gemeenskap.
"Dis vir my, die raad en die munisipale bestuurder belangrik om terugvoer van ons gemeenskap oor dienslewering en die algemene welstand van ons inwoners te kry," aldus raadsheer Levendal.
Op navraag het die inwoners verskeie probleme geopper, onder meer oor bome wat te veel mors of die sypaadjie wat te ongelyk en dus gevaarlik is vir mense wat reeds moeilik oor die weg kom.
Sommige van die insette het nie streng binne die raamwerk van munisipale dienslewering geval nie, maar daar is ruim tyd afgestaan om elke inset aan te hoor en dit is boonop genotuleer.
Kyk 'n video hier:
"Ek het mense met my saamgebring wat kan organiseer en wat nie bang is vir werk nie," het die burgemeester gekorswel.
Raadsheer Levendal het die onderneming gegee dat, sover moontlik, die probleme wat geopper is, aangespreek sal word.
"Waar probleme buite die raamwerk van die munisipaliteit val, sal op die knoppie van die privaatsektor gedruk word om hulp te verleen."
Reik uit
Sommige van die probleme wat uitgelig is, verg nie veel om aan te spreek nie. Verskaffers van tuinboudienste, verfprodukte, hardewarewinkels en sakelui wat gepaste personeel beskikbaar kan stel kan gerus die munisipale woordvoerder, mnr Colin Puren skakel vir inligting oor hoe om betrokke te raak.
Daar bestaan ook 'n wesenlike probleem met die onmiddellike omgewing buite die Benevolent Park-area.
Die senior bestuurder in die kantoor van die munisipale bestuurder, mnr Colin Puren verduidelik dat sommige van die probleme wat die inwoners in die gesig staar, streng gesproke nie binne die raamwerk van munisipale dienslewering val nie. "Met hierdie probleme sal ons probeer om borge te betrek om betrokke te raak," aldus mnr Puren.
Raadsheer Levendal het die ouer garde bedank vir hul bydrae tot die gemeenskap in die jare toe hulle nog aktief was. "Baie van u se handewerk pryk nou nog in ons mooi dorp."
'n Inwoner wat reeds 10 jaar deel van die Benevolent Park-familie is, het benadruk hoe gelukkig sy en haar man daar woon.
ARTIKEL, VIDEO & FOTO'S: NICKEY LE ROUX, MOSSEL BAY ADVERTISER NUUSREDAKTEUR
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'