MOSSELBAAI NUUS - Mosselbaai-munisipaliteit se munisipale bestuurder, adv Thys Giliomee het 2018 se bedrywighede in oënskou geneem en sê: "Ek kan Mosselbaaiers nie genoeg bedank vir die positiewe gesindheid teenoor Mosselbaai-munisipalteit nie.
"Baie dankie vir die baie goeie betaaltendens wat ons beleef. Baie dankie vir die onbaatsugtige bydraes in sowel tyd en opoffering vir ons brandweerdienste, wetstoepassers en buurtwagte, vir die opheffingswerk en vele ander."
Hoogste gradering
"Vir Mosselbaai-munisipaliteit was die grootste eer in 2018 nie die verwerwing van die sesde opeenvolgende skoon oudit nie maar om deur Ratings Afrika aangewys te word as die mees finansieel volhoubare munisipaliteit in Suid-Afrika. Mosselbaai-munisipaliteit en Swartland-munisipaliteit deel die eerste plek met elk 84 uit 'n moontlike 100 punte.
Toekoms
"2019 sal sy eie uitdagings bring. Politieke onstabiliteit, weens die provinsiale en nasionale verkiesing kan verwag word. Die munisipaliteit sal egter volhard met die uiters hoë standaard van dienslewering waaraan inwoners gewoond geraak het.
Alle personeel se werksbeskrywings sal egter hersien en alle poste herevalueer word, alle delegasies sal hersien word en die register van delegasies sal aangepas word, die werkstudieondersoek na die koste-van-dienslewering sal voltooi word en die tariefstruktuur en basis vir tariewe sal ooreenkomstig aangepas word om te verseker dat dienslewering voorrang geniet."
Omgewing
Hy sê die munisipaliteit se onderskeie prestasies is juis merkwaardig weens die omgewing; plaaslik, nasionaal en internasionaal, waarin dit plaasgevind het.
"Gebeure soos Brixit (British Exit) en die VSA/Chinese handelsoorlog skep onsekerheid op internasionale vlak, dit beïnvloed die waarde van die Rand en die koste van dienslewering vir munisipaliteite. 2018 is gekenmerk deur rekord-hoë brandstofpryse. Die brandstofprys het ‘n baie groot invloed op die koste van munisipale dienslewering.
"Op nasionale vlak het 2018 afgeskop met die inhuldiging van President Cyril Ramaphosa op 15 Februarie. Die plaaslike aandelemark het positief reageer vir die eerste agt maande van die jaar maar het sedertdien aansienlik teruggesak tot die vlakke van die eerste helfte van 2017. 2018 was ook die jaar waarin Suid-Afrika gepoog het om gebeure soos die KPMG debakel, die Steinhoff debakel en die “State Capture” debakel te ontrafel. Dan was daar ook Enterprise Food wat hulle produkte moes onttrek weens listeriose. Teen die einde van 2018 het Eskom weer uit kapasiteit geraak, dit na die aanstelling van die nuwe Eskomraad en nadat nog eenhede by Medupi in werking gestel is. Wanneer die kragvoorsiener nie elektrisiteit voorsien nie, raak dit almal in Suider Afrika. Net as voorbeeld, alle rioolpompstasies en watersuiweringswerke benodig elektrisiteit om te werk.
Day Zero
"Die sogenaamde “Day Zero” word ook aan die Wes-Kaap se steeds ongekende droogte. Hoewel Mosselbaai-munisipaliteit nie die volle impak hiervan ervaar het nie, is ons belangrikste watervoorsieningsdamme gemiddeld 10% laer as ‘n jaar gelede. Die munisipaliteit het die 2018-feesseisoen tegemoet gegaan met die Wolwedansdam op ongeveer 70%, terwyl ek meer gemaklik sou wees met 80%," aldus Giliomee.
Hy sê weens die droogte is die brandgevaar baie hoog. "Mosselbaai-munisipaliteit se brandweerdiens kon die skade en lewensverlies, weens struktuurbrande tot ‘n minimum beperk. Selfs met veldbrande het brandbestryders hulself oortref en verseker dat eiendom en lewens in die Mosselbaai-munisipale gebied beskerm word. Toe ons buurmunisipaliteit hulp met brandbestryding benodig het, kon ons van hulp wees. Ons is baie trots op ons uiters bekwame brandweerhoof en sy uitstekende span.
Protes
"Ongelukkig het Mosselbaai ook protesoptrede, onder die vaandel van diensleweringsprotes, in 2018 beleef. Die ingesteldheid om te ontwrig en te vernietig, in die hoop op beter dienste, word nie begryp nie. Ek wil veral die uitvoerende burgemeester, raadsheer Levendal bedank vir sy meesterlike leierskap om die situasies te ontlont en orde te herstel. Dankie ook aan ander rolspelers soos die Suid-Afrikaanse Polisiediens, Provinsiale Verkeer en die onderskeie Buurtwagte."
Uitdaging
Giliomee meen die Mosselbaai-munisipaliteit se grootste enkele plaaslike uitdaging is vandalisme en verhoogde kriminaliteit, onder meer die beskadiging en diefstal van munisipale eiendom en infrastruktuur asook onwettige elektrisiteitaansluitings. Armoede, veral weens ‘n tekort aan werksgeleenthede en toenemende sosiale wangedrag, word as die belangrikste oorsake hiervan gesien.
Strategiese fokus
"Die Mosselbaai-munisipaliteit se 2018 strategiese sessie, waartydens die burgemeester en die munisipale bestuurder van Swartland-munisipaliteit insette gelewer het, het op hierdie aspekte gefokus. Die suksesvolle 2018 strategiese sessie se twee belangrikste uitkomste is eerstens om programme aktief uit te rol om die gemeenskappe se morele en sosiale heropbou te fasiliteer. Tweedens is dit om te fokus op die skep van ekonomiese geleenthede in ‘n veilige omgewing om volhoubare werksgeleenthede te skep.
Indaba's
"In 2018 het Mosselbaai-munisipaliteit drie baie suksesvolle Indabas oor seevisboerdery, vaardigheid en energie aangebied. Voortvloeiend uit die indabas is ‘n omgewingsimpakondersoek na seevisboerdery en die konsepnota vir ‘n moontlike spesiale ekonomiese sone (SEZ) in Mosselbaai, wat vroeg in 2019 weer aan die Provinsiale Regering voorgelê sal word vir hulle ondersteuning.
Spesiale ekonomiese zone
"Mosselbaai-munisipaliteit is goed geposisioneer vir 'n petro-chemiese en marine-ekonomie SEZ. Pluspunte is die PetroSA-aanleg, die hawe, die nabygeleë lughawe, padnetwerk en die stabiliteit en kapasiteit van Mosselbaai-munisipaliteit vir munisipale dienslewering. Mosselbaai-munisipaliteit se maksimum aanbod van elektrisiteit aan gebruikers is 77.5MVA, terwyl die huidige maksimumvraag 65.6MVA is. Dit laat 11.9MVA spaarkapasiteit. Selfs tydens die droogte was dit dusver nie nodig om gebruik te maak van die 1.7Ml per dag boorgate of die 15Ml per dag ontsoutingsaanleg nie. Mosselbaai-munisipaliteit se rioolverwerkingsaanlegte se totale kapasiteit is 22.54Ml per dag terwyl die gemiddelde verwerking per dag 10.72Ml is," sê adv Giliomee.
Internasionale uitreik
Die Indonesiese uitreik deur die burgemeester, munisipale bestuurder en die raadslede wat hulle op eie koste vergesel het, het verskeie nuwe inisiatiewe en geleenthede gegenereer.
"Die infrastuktuurinstandhoudingsplan", sê adv Giliomee, "bring mee dat die munisipaliteit se uitgebreide infrastruktuur behoorlik in stand gehou en ou infrastruktuur met nuwe, beter en hoër kapasiteit infrastruktuur vervang is om in toekomstige uitbreidingbehoeftes te voorsien."
"Aangesien die laaste organisatoriese herontwerp vir die munisipaliteit in 2002/03 gedoen is en ‘n meer dienslewering-geörienteerde struktuur, gepas vir die huidige uitdagings en wetgewing vereis word, is ‘n organisatoriese herontwerp gedoen. Mosselbaai-munisipaliteit was die eerste in Suid-Afrika waar bestuur en die vakbonde as vennote die projek gefinaliseer het.
Opleiding
"Nog ‘n eerste in Suid-Afrika is dat Mosselbaai-munisipaliteit in 2018 begin het met ‘n middelbestuurontwikkelingsprogram om die volgende generasie bestuurders van binne die organisasie te ontwikkel om te verseker dat die institusionele kennis en ondervinding nie verlore gaan nie. Die program is straf en veeleisend, maar ons is uiters trots en bemoedig met die positiewe ywer waarmee ons personeel die uitdagings aanpak en bemeester.
Rommel
"Rommelstorting bly ‘n groot uitdaging. Die tender vir die dorp se skoonmaak is hersien. Die nuwe kontrakteurs, wat vanaf 1 Julie 2018 diens doen, vaar goed. Ons kry gereelde, positiewe terugvoer oor die netheid van die dorp. Die munisipaliteit het ook die afvalbestuurplan hersien en die gewysigde plan in 2018 aanvaar om in 2019 te implementeer. Tuinroete Distriksmunisipaliteit het in 2018 die PPP-tender vir die ontwikkeling en die bedryf van die streekstortingsterrein suksesvol toegeken. Ontwikkeling behoort in die eerste helfte van 2019 te begin.
Infrastruktuur
"Die nuwe 19 hektaar munisipale begraafplaas, ontwikkel na ondersoeke en studies soos deur wetgewing voorgeskryf, is teen 'n koste van R7m voltooi en is gereed vir gebruik.
"Die Hartenbos Rioolverwerkingsaanleg se retensiedamme is skoongemaak in 2018 en sal verseker dat die uitvalwater, wat in die Hartenbosrivier gestort word, van ‘n beter kwaliteit is.
Mosselbaai geniet die voordeel van die N2 herseëlprogram en daar is begin met opgraderingwerk op die R102 en die Friemersheimpad. Die herstel en herontwikkeling van die ou sportskool in Marshstraat vorder goed.
Behuising
"Die titelaktes vir die 154 huise van die Herbertsdale Behuisingsprojek wat vanjaar voltooi is, is oorhandig. Huise word toegeken ingevolge nasionale wetgewing en word streng beheer en gemonitor. Die ontwikkelingsplan vir die Mountain View ontwikkeling van ongeveer 1 200 eenhede in ‘n geïntegreerde behuisingsontwikkeling is vanjaar voltooi en aanvaar. Die eerste van die ontwikkelings waar middelinkomste integrasie deel vorm van die voorwaardes vir vervreemding van munisipale eiendom is in 2018 goedgekeur op erf 3991, Diasstrand. Die beplanning vir die opgradering van ongeveer 4 500 informele stukture, deur hulle op gedienste erwe te hervestig, nader voltooiing.
Walvisstraat
"Die behuisingsontwikkeling aangrensend aan Walvisstraat vorder nie soos beplan nie. In 2018 is ‘n nuwe kontrakteur aangestel om die dienste te installeer nadat die aanvanklike kontrakteur nie sy verpligtinge nagekom het nie en sy kontrak na vele prosesse gekanselleer moes word. Die tender vir die oprigting van die topstrukture vir die ontwikkeling moes in 2018 gekanselleer word weens ‘n verandering in spesifikasies. Ten einde aan nasionale wetgewing te voldoen sal die tender aangepas word en vroeg in 2019 heradverteer word.
Elektroniese indiening
"Sedert 2018 kan alle beplannings- en bou-aansoeke elektronies ingedien word deur ‘n ten volle geïntegreerde proses. Aansoekers kan planne indien sonder om hul kantore te verlaat.
"Die Ruimtelike Beplanningsraamwerk is vanjaar hersien en opgedateer. Spesifieke ontwikkelingsraamwerke is aanvaar, onder meer vir Aalwyndal en die area net buite Hartenbos.
Feeste
"Suksesvolle dorpsfeeste soos die Diasfees, Sportfees en Soulfest het talle toeriste gelok. Die jaarlikse Buffalo Rally en Moss Jazz Fees geniet munisipale ondersteuning soos wat versoek en goedgekeur word. ‘n Baie suksesvolle Ministers-Burgemeesters-Forum is ook in Mosselbaai aangebied.
Landelike ontwikkeling
"Landelike gemeenskappe is betrek by die nuwe denkrigting oor landelike ontwikkeling. Openbare vergaderings daaroor was goed ontvang en die werk aan die herontwikkeling van die Landelike Ontwikkelingstrategie sal in 2019 gefinaliseer en geformaliseer word.
Hoogtepunte
"Die Springbok 7’s se oefenprogram het die gemeenskap betrek toe handtekeninge uitgedeel is.
"Mosselbaai se Gemeenskapspolisieëringsforum is aangewys as die beste in die land. Die forum en veral die buurtwagte verrig 'n enorme taak in misdaadbekamping.
"‘n Plaaslike inwoner, Danika Barnard is aangewys as Mejuffrou United Nation Internasionaal en later ook as Queen of Africa. Sy is slegs die tweede persoon om laasgenoemde toekenning te ontvang.
"Meneer Isaac Ntoto van Eden Berries in Brandwag is aangewys as wenner van die 2018 Prestige Agri Award."
Advokaat Giliomee betuig sy dank teenoor alle Mosselbaaiers en spreek die hoop uit dat 2019 geken sal word aan samehorigheid, samewerking en eensgesindheid tot voordeel van die unieke dorp Mosselbaai.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'