MOSSELBAAI NUUS - Twee bekende mediese praktisyns van Mosselbaai is binne die bestek van twee dae oorlede.
In die eerste voorval het dr Wilhelm Blaauw (54), 'n tandarts, skielik op 5 Januarie in sy kantoor in Marshstraat aan 'n hartaanval beswyk. Op 7 Januarie het dr Erhardt Veldsman (70), 'n algemene praktisyn in 'n ongeluk omgekom.
Dokter Blaauw
Wilhelm se vrou, Irene sê Wilhelm het op die betrokke dag aan sy stoelassistent gesê dat hy 'n brandgevoel op sy maag het. Die stoelassistent het vir Wilhelm medikasie by 'n plaaslike apteek gekry waarna hy dit gedrink en vir sy personeel gesê het dat hy net 'n rukkie gaan lê.
"Toe hulle hom wou gaan haal vir sy 14:00 afspraak was hy reeds dood," sê Irene.
Wilhelm se afsterwe is vir sy familie 'n geweldige skok. "Wilhelm het 'n geweldige hoë waarde aan mense geheg, ongeag agtergrond. Hy het almal met dieselfde deernis, respek en omgee behandel en geen onderskeid gemaak nie. Minder bevoorregte mense het hom baie na aan die hart gelê en hy het graag 'n koue koeldrank vir 'n karwag gegee terwyl hy 'n geselsie met hulle aanknoop," vertel Irene. Gesinstyd was vir Wilhelm kosbaar en sy gesin sê hy het hulle op die hande gedra.
"Hy het altyd almal bedien. Hy het 'n wye musieksmaak gehad en het graag oor naweke sy familie trakteer op heerlike, gesellige musiekaande tot dagbreek." Vir Marli, sy dogter, was hy 'n liefdevolle pa en beste vriend. 'n Gedenkdiens vir Wilhelm word vandag, Vrydag 12 Januarie om 15:00 by die Restoration Fellowship in George gehou.
Dokter Veldsman
Op 7 Januarie het dr Erhadt Veldsman, 'n algemene praktisyn by die Medicross in Heiderand tussen Ashton en Swellendam in 'n motorongeluk gesterf. Erhardt was saam met sy vrou, Marinda in die buiteland met vakansie en was op pad terug na Mosselbaai. Die voertuig se band het gebars waarna die voertuig gerol het en Erhardt opslag dood is. Teen druktyd was Marinda steeds besig om van haar beserings te herstel.
Veldsman se kollegas beskryf hom as 'n geliefde dokter en kranige gholfspeler. Sy kollega, dr Eugene Marais sê dit voel of hulle 'n familielid verloor het. "Ek is baie beïndruk met die Montagu-hospitaal waarna Marinda afgevoer is. Sy is nie kritiek beseer nie maar het baie seergekry."
Erhadt het sedert 2008 in Mosselbaai gewoon. Tydens sy mediese loopbaan het hy baie mense geraak waar hy op Christiana, Ellisras, Groblersdal, Pretoria en laastens op Mosselbaai gewoon en gepraktiseer het. Hy het hom kortstondig in die staatsdiens begewe as die hoof-direkteur van gemeenskaps- en gesondheidsdienste van die ou TPA. Dit was egter sy liefde en passie vir mense wat hom na die privaat praktyk teruggeroep het. Sedert sy aftrede in Pretoria het hy in Mosselbaai gepraktiseer. Hy het gelewe vir sy vrou, gesin en familie. Die gemeenskap was vir hom baie belangrik en daar was altyd tyd gemaak vir 'n potjie gholf op 'n Woensdag en Saterdag. Erhardt se filosofie was "dat mens werk om te leef en nie leef om te werk nie" en hy was "gebou vir vakansie hou". Hy word oorleef deur sy vrou, agt kinders, agt kleinkinders en oudste broer.
Veldsman se roudiens word om 11:00 op Maandag, 15 Januarie vanuit die NG Kerk Mosselbaai-Suid gehou.
Marinda en dr Erhadt Veldsman.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'