MOSSELBAAI NUUS - 'n Sewentienjarige seun van Klein-Brakrivier wat aangekla is van die verkragting van 'n 8-jarige meisie bly in aanhouding tot sy formele borgaansoek.
'n Ondersoekbeampte van die polisie se eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele misdrywe, ao Alistair Rezant het die 17-jarige verdagte, wat in Powertown woon, op Maandag, 4 September by sy huis in hegtenis geneem.
Volgens bronne het die 8-jarige slagoffer die aand van Sondag, 3 September by 'n maatjie se huis in Powertown oorgeslaap. Die meisie het op 'n bed geslaap toe sy Maandag in die vroeë oggendure wakkerword en die verdagte bo-op haar aantref.
Die verdagte, wat groot gebou is vir 'n 17-jarige seun, het die meisie se mond toegedruk en haar verkrag.
Na die verkragting het die slagoffer na haar ouerhuis in Powertown gehardloop waar sy 'n familielid van die voorval ingelig het.
Hoewel die saak dadelik by die Groot-Brakrivier-polisiestasie aangemeld is, is die slagoffer eers Maandagoggend vir 'n mediese ondersoek gestuur.
Die slagoffer kon dus nie dadelik na die verkragting bad nie.
Volgens polisie is dit glo die prosedure in gevalle waar die verkragting nie lewensbedreigend is nie.
Daar word ook net tot sekere tye saans dienste aan slagoffers gelewer by verkragtingstraumakamers, tensy die verkragting brutaal van aard is.
Die 17-jarige verdagte is deur ao Rezant in hegtenis geneem nadat die slagoffer Maandagoggend vir 'n mediese ondersoek gegaan het. Volgens die polisie is die verdagte nie meer skoolgaande nie.
Op Dinsdag, 5 September het die verdagte in die landdroshof op Groot-Brakrivier verskyn op 'n aanklag van verkragting.
Die verdagte bly in aanhouding en is na Huis Outeniekwa op George gestuur tot sy volgende hofverskyning op 12 September waartydens hy formeel om borgtog kan aansoek doen. Volgens polisie gaan dit met die slagoffer goed onder omstandighede.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'