Gallery Video
MOSSEL BAAI NUUS EN VIDEO - Die lede van die Suid-Kaap Fynproewers-gilde en hulle gaste is uit hulle nate bederf met 'n uithalerdemonstrasie deur sjef Karen du Plessis van Kitchen Queen Food Studio. Almal was dit eens dat dit 'n vroeë Moedersdagbederf was.
Die geleentheid het plaasgevind op Donderdag, 3 Mei by Reed Valley met die tema, Gourmet-etes tuis vir Moedersdag. Met haar natuurlike sjarme en warm persoonlikheid het sjef Karen (wenner van die Sjef van die Jaar-kompetisie in 2001) die volgende geregte gedemonstreer.
Hy het begin met hoender-en-pancetta-roulade met 'n béarnaise-sous.
Die gereg is aanskoulik voorgesit op 'n bietjie botterskorsie moes met oond geroosterde uielobbe, patatskywe en krakerige hoendervelletjies – 'n ware fees vir die oog en op die tong. Dit is opgevolg met Le Croque Madam met mosterd-bechamel.
'n Heerlike bederf vir 'n ma en maklik genoeg om te maak vir 'n kind. Die manier waarop sy die kalfsoogeier gemaak het, is 'n ware wenresep. Daarna het sy tuisgemaakte pasta, gnocchetti met pesto-en-tamatiesous, gemaak - voorwaar 'n smelt-in-die-mond-gereg.
Sjef Karen du Plessis het letterlik gekook dat die "stoom" so staan. Foto: Tersia Marais
Geen wonder haar eggenoot het hierdie gereg gekies as die laaste gereg wat hy sou kies as hy die keuse in die tronk moes maak. Die demonstrasie is afgesluit met 'n dekadente wit- en donker sjokolade-pannekoek-torte wat beslis 'n tweede skeppie werd was. Reed Valley se wyne was uitstekende pasmaats vir hierdie geregte.
Brendt Meyer het hulle chardonnay pinot noir gekies om saam met die roulade te bedien. Die sauvignon blanc het die Le Croque Madam en die gnocchetti baie goed gekomplementeer en die vinho espumante het die wit- en donker sjokolade-pannekoek-torte mooi afgerond.
Kyk 'n video hieronder:
Met wit en skakerings van pienk is daar 'n teetafel vir ma gedek. Enige ma sou baie spesiaal gevoel het as sy op Moedersdag hierby kon kom aansit.
Die oggend was 'n ware fees vir die oog en tong en almal teenwoordig het begeesterd en propvol nuwe idees huis toe gegaan na hierdie uiters geslaagde demonstrasie.
Hoender-en-pancetta-roulade met 'n béarnaise-sous voorgesit op 'n bietjie botterskorsiemoes met oondgeroosterde uielobbe, patatskywe en krakerige hoendervelletjies.Foto: Tersia Marais.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'