MOSSELBAAI NUUS - Met Stranded Marine Animal Rescue Team (S.M.A.R.T.) wat reeds die afgelope twee jaar met die louere wegstap in die vlotkompetisie tydens die Diasfees, sal ander deelnemers moet uithaal en wys om hulle vanjaar ore aan te sit.
Die Diasfees se feestelike straatoptog vind volgende Saterdag, 1 Februarie plaas en vertrek vanjaar vanaf die Mosselbaai Mall in Heiderand se parkeerterrein.
Met die optog wat 11:00 begin, kan die publiek vooraf na hartelus die vlotte bewonder en foto's neem.
Die roete waarlangs die straatoptog vanjaar beweeg, is ook effe aangepas. Maak seker dat jy om 12:00 by die Santos-feesterrein is wanneer die vlotte arriveer en die wenner aangekondig sal word.
Die Diasfees begin op Vrydag, 31 Januarie en loop ten einde op Sondag, 2 Februarie. Die fees is soos in die verlede propvol vermaak vir die hele gesin met stalletjies, 'n pretpark en 'n verhoogprogram wat almal vasgenael sal hou.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'