Video
MOSSELBAAI NUUS & VIDEO - Daar is min dinge wat Suid-Afrikaners, van bykans alle ouderdomme se aandag vinniger trek as wanneer daar oor die veiligheidsituasie in die land gepraat word.
Ten spyte van al die faktore wat misdaad in die hand werk, is daar baie wat landgenote kan doen om hulle persoonlike veiligheid te verbeter.
In die lig hiervan het die Kenani-dienssentrum verlede week tydens hulle weeklikse aktiwiteitsprogram op Vrydae, 'n selfverdidingsdemonstrasie aangebied.
Vir hierdie doel, is gekwalifiseerde kundiges van Tiger Kai, 'n afrigtingsentrum in Mosselbaai gevra om die demonstrasie te fasiliteer.
Om die ys te breek voor hierdie ernstige veiligheidsake aangespreek word, het een van Mosselbaai se geliefde "seniors", Aunt Ethel eers die oues laat ontspan met 'n vertelling van hoe uitputtend sy Kersinkopies vind.
Sy het dit as aanknopingspunt gebruik om aan te dui, waarom dit juis nou belangrik is om te let op persoonlike veiligheid.
Instrukteurs Deon Barnes en Marulin Goodger het hierna met die demonstrasie begin. Goodger, ook 'n fiksheidsinstrukteur een van die slegs vier vroue in Mosselbaai geword wat as Krav Maga-instrukteur gekwalifiseer het vroeër vandeesmaand, het getoon hoe maklik 'n aanval afgeweer kan word deur die regte tegniek te bemeester.
Krav Maga is 'n selfverdidingsisteem wat sy oorsprong in die Israelse weermag gehad het.
Die sisteem kombineer verskeie tegnieke soos boks, stoei, aikido, judo, karate, asook realistiese gevegskuns.
Tegnieke wat gedemonstreer is, het ingesluit meer ingewikkelde ingestudeerde tegnieke, maar ook basiese tegnieke wat leke kan bemagtig om meer bedag te wees en selfs 'n moontlike aanval of rooftog af te weer.
Die "sagmaakproses" word gedemonstreer deur Marulin Goodger en Deon Barnes, beide instrukteurs in Krav Maga.
Die seniors het deurgaans aktief deelgeneem en vrae gevra terwyl die demonstrasie aan die gang was.
Veral die vroue in die gehoor, het dit terdeë geniet om te sien hoe vernuftig Goodger haar heelwat groter "aanvaller", Barnes afransel deur ingeoefende tegnieke toe te pas.
Barnes het ook tydens die aanbieding die verskillende vlakke van bewussyn en waarneming, wat goed benut kan word om persoonlike veiligheid te verseker, verduidelik.
Marulin Goodger stel Deon Barnes, haar "aanvaller" buite aksie tydens 'n selfverdedigingsdemonstrasie.
Kyk 'n video hieronder:
ARTIKEL, VIDEO & FOTO'S: CORNELLE CARSTENS, MOSSEL BAY ADVERTISER-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'