LEEFSTYL NUUS - Grendeltyd het menige voornemende tuinier se groen vingers lewe laat kry.
Nie almal is egter ewe seker waar om met 'n groentetuin te begin, of wat die blomtuin nodig het nie.
Suid-Kaap Forum het by Julie van Deventer, voorsitter van die Busy Lizzy huis- en tuinbouklub gaan hoor hoe mens nou in die tuin moet woeker.
Sy sê Meimaand is 'n oorgangstyd.
"Herfs verander nou geleidelik in winter, maar dis nog nie te koud om saailinge van byvoorbeeld heuningblommetjies, leeubekkies, ridderspore, lobelia of weeskindertjies te plant of saai nie. Saailinge moet elke twee weke vloeibare plantvoedsel kry."
As jy reeds pronkertjies gesaai het, is dit nou die tyd om hulle te stut. Mei is ook die perfekte tyd vir lentebolle soos anemone en freesias.
'n Eko-vriendelike manier om slakke weg te hou, is om fyngemaakte eierdoppe om die jong plantjies te strooi.
As jy voëls na jou tuin wil lok, is dit ook nou die regte tyd om 'n lappie wintergras êrens te saai.
Bome en struike kan direk in die grond geplant word, maar die gat moet met iets soos potgrond voorberei word.
Snoei heinings en maak skoon waar nodig.
Wat groentetuine betref, is Van Deventer se raad om beet, boerbone, wortels, radyse, kool, kropslaai en ertjies te saai. 'n Deklaag strooi tussen rye sal vog behou en onkruid help voorkom.
Kruie wat van dié weer hou is sitroenkruid.
In algemene tuinonderhoud kan dié tyd gebruik word om trappies en tuinbanke na te gaan. Vervang enige verrotte hout.
Gietysterbanke kan met 'n draadborsel geskrop word voor 'n onderlaag aangewend word.
Geute sal ook by 'n goeie skoonmaak baat.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Karoo, Hessequa nuus'