MOSSELBAAI NUUS - Pluk maar vir jou groente uit JP Holtshauzen se tuin. Dit is alles gratis en enigeen is welkom, maar veral dié wat honger is en nie kos het nie is welkom.
JP gaan die stuk grond voor sy spoorweghuis in Mosselbaai in 'n groentetuin te verander. "Ek is besig om 'n groot verskeidenheid groente te plant en sal so vir honger mense kos gee," sê JP aan die Mossel Bay Advertiser terwyl hy besig is om grond om te spit.
Volgens JP behoort die lappie grond voor sy huis aan Transnet en het hy toestemming gekry om die grond vir 'n groentetuin te gebruik.
"Ek is baie lief vir tuinmaak en die grond word gemors deur niks daarin te plant nie."
JP het reeds uie, sonneblomme en groenrissie geplant en werk elke dag vir 'n ruk in die tuin. Hy betaal boonop self vir die groente wat hy plant. Binnekort sal daar ook kool, ertjies, patat, mielies en blaarslaai geplant word.
Op hierdie lappie grond beplan JP om groente te plant sodat honger mense iets te ete kan kry.
"Mense wat die kos nodig het kan kom haal. Ek of my vrou is elke dag by die huis en iemand wat wil groente hê kan net vir ons kom vra." En in ruil daarvoor?
"Ons vra net dat mense vir ons hulle tuinblare as kompos bring of die wat wil en bereid is, kan kom help om in die tuin te spit."
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'