Die doel van 'n sitplekgordel is om die draer stewig in die sitplek te hou tydens 'n botsing en om te verhoed dat hy of sy teen die paneelbord of deur die voorruit geslinger word.
"Ouers dink deur 'n baba op hul skoot in die voorste sitplek van 'n voertuig vas te hou, hulle tydens 'n ongeluk die baba teen beserings kan beskerm. Niks kan verder van die waarheid wees nie!" sê Mark Jansen, van die Direktoraat Verkeersveiligheid. "Al is jy vasgegordel, sal 'n kind tydens 'n ongeluk uit jou arms geruk en teen die voorste ruit ge-slinger word met ernstige breinskade of beserings as 'n gevolg.
"Indien jy self nie vasgegordel is nie, sal jou liggaam vorentoe geslinger word en sal die baba 'n buffer tussen jouself en die paneelbord vorm. Die klein liggaam sal as beskerming vir die volwassene dien, maar sal in die proses egter vergruis word," het hy gesê.
George Verkeersafdeling
Onlangse monitering het skokkende resultate gewys in terme van hoeveel ouers dit toelaat dat 'n klein kind op die voorste sitplek staan of waar twee kinders op die voorste sitplek sit sonder sitplekgordels.
Teen 'n spoed van slegs 25 km sal die kind se kop die voorruit tref indien skielik gerem moet word of 'n botsing plaasvind. Die moontlike gevolge is die dood of breinskade - iets wat sekerlike net 'n onverantwoordelike ouer sal toelaat. Boonop is dit 'n krimele oortreding.
Die enigste plek vir 'n kind om vasgegordel te wees, is in 'n SABS goedgekeurde kinderstoeltjie. Die kind moet nie 'n keuse kry om vasgegordel te word nie. Dit is die bestuurder se wetlike en morele plig om seker te maak dat kinders altyd vasgegordel is.
Die volgende kinderkeertoestelle is beskikbaar:
- Baba (geboorte tot nege maande en een jaar tot 10 kg)
- Kind (geboorte tot vyf jaar 0-18 kg)
- Booster-kussings (sowat ses jaar of 15-25 kg)
- Sitplekgordels (sowat 11 jaar of 36 kg)