Die Mossel Bay Advertiser-span staan almal groot-oog voor die leeuhanteerder van Zorgfontein Eco & Wildlife Reserve. Vriendelik dog ferm word ons van die moets en moenies op die staptog wat gaan volg, ingelig.
Ons ontmoet die personeel buite die reservaat in 'n boma, nog geen leeus in sig nie. Almal trap rond en giggel senuweeagtig. Om saam met drie leeus in die veld te stap is nie iets wat jy elke dag doen nie.
Gewapen met slegs stapstokke, stap die groep in die reservaat in, oppad om vir Lyla, Mika en Mufasa te ontmoet. Níe in 'n hok nie, maar in die veld, waar leeus natuurlik aard.
Die drie kom teen 'n heuwel af gestap, reguit in die rigting van die groep, al spelend met mekaar en met een van hul hanteerders, Martiens Jaer agterna.
Asems word hoorbaar ingetrek en die adrenalienvlakke is hoog. Die twee wyfies en mannetjie kyk intens na die groep met groot geel oë en stap nuuskierig nader.
Die hanteerders is op hulle gemak en moedig, na die gegroet, die drie aan om rigting in te slaan.
Op agtmaande lyk hulle soos tipiese jong-volwassenes. Hulle pote is groot en nog nie in verhouding met die res van die leeulyf nie. Hoewel hulle jonk is, is die respek wat hulle onbewustelik afdwing, dáár. Jy speel mos nie met 'n leeu nie...
Lyla neem die leiding en die groep stap agterna. Die leeus kap na mekaar en rol al spelend in die gras. Hulle stop om water te drink en Mufasa hardloop gereeld, tot groot vermaak van die besoekers, in sy eie rigting met hanteerder, Ben Bristow kastig-kwaai agterna.
Elkeen in die groep kry 'n kans om aan die spesiale diere te vat en foto's te neem.
Om saam met 'n leeu in die veld te stap en raak-afstand van die besondere dier te wees, is 'n unieke ervaring. Jy moet dáár wees om die gevoel te beleef.
Die stap duur ongeveer 'n uur maar dit hang af hoe vinnig die leeus pas aan gee.
Dit kos R350 per persoon en slegs persone wat hoër as 1.5m is, word toegelaat.
Vir meer inligting, bel Arne Muller by 071 280 1351
Nog foto's hier.
Die Advertiser-span begin hul staptog saam met die drie jong leeus en leeuhanteerders van Zorgfontein Eco & Wildlife Reserve.
ARTIKEL: LOUISE POSTHUMA, MOSSEL BAY ADVERTISER-JOERNALIS