MOSSELBAAI NUUS - Die NG Kerk Mosselbaai bied vanjaar 'n Kerssangdiens aan met die tema, Afri-Karoo.
Die geleentheid vind plaas op 26 November om 19:00.
Kersfees het in 'n krip in Betlehem begin en in die velde het die skaapwagters die nuus eerste gehoor.
Maar as dit vandag hier in Mosselbaai, die Karoo by die see, sou plaasvind – hoe sou dit dan kon gebeur?
Miskien help DJ Opperman ons al bietjie met sy gedig, Kersliedjie:
Drie outas het in die haai Karoo
die ster gesien en die engel geglo
hul kieries en drie bondels gevat
en aangestryk met 'n jakkalspad...
Die Kerssangdiens gaan probeer om Christus se koms te vier in die konteks van die aardse Karoo en van 'n "huisie by die see" in Mosselbaai en hoop dit sal so hoop bring in 2107.
Sotte Voce onder leiding van Johan Engelbrecht het geen bekendstelling in Mosselbaai nodig nie en hulle gaan ook hulde bring aan Christus oor wie Kersfees gaan.
Die koor van Laerskool Hartenbos onder leiding van Christelle Kies gaan ook kom deelneem.
Dis ook die eerste groot optrede van die kerk se nuwe musiekleier, Irma Botha, saam met Pierrié Kies en van die kerk se ander musici.
"Dit gaan iets wees wat jy nie kan mis nie. Kom gerus met familie en vriende."
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'