MOSSELBAAI NUUS - Twee meisies van onderskeidelik Hartenbos en George het onlangs die groot stap geneem om van hul hare te tydens die jaarlikse Shavathon te laat sny en aan Kansa te skenk vir die maak van pruike vir kankerslagoffers.
Hierdie groot stap is by die Hartenbos Seefront gedoen en die hare is deur Lianie de Klerk van The Room gesny.
Die agtjarige Miandrie Jacobs het vir die eerste keer haar hare laat sny. Tot op hede is net die punte gereeld gesny om haar gesonde haardos te laat skitter.
Hierdie brawe meisie het egter besluit dat vanjaar die jaar is wat sy haar hare vir ‘n maatjie aanbied wat haar hare weens kankerbehandeling verloor het.
“Ek weet nog nie vir wie dit gebruik gaan word nie, maar ek hoop sy geniet my hare net so baie soos ek dit geniet,” het Miandrie gesê nadat haar vlegsel gewaai het en sy met ‘n splinternuwe bobstyl te spoggerig weggestap het. Sy het ook besluit om pers strepe in haar hare te laat spuit. Haar boetie, MJ het ‘n blou kop met twee rooi handjies laat spuit.
Lizanne Pretorius, ‘n graad 8-leerder van Hoërskool Outeniqua het met die ondersteuning van haar ma, Sanet en haar oom en tannie, Agnes en Marius Victor van Langebaan by die Seefront opgedaag. Sanet het onlangs oor 'n plaaslike radiostasie gehoor Kansa soek hare vir die maak van pruike.
Alida en Lloyd Calitz was saam met leerders van die Hoërskool Punt aan die stuur van die Shavathon by die Seefront.
Die Jacobs-gesin was almal teenwoordig toe die agtjarige Miandrie haar pragtige vlegsel vir ‘n modieuse bobstyl verruil het. Hier is pa Jaco, ma Roeline en boet MJ saam met Miandrie net voordat haar vlegsel gewaai het.
Lizanne Pretorius van George saam met haar ondersteuningspan. Agter staan die haarkapper Lianie de Klerk, ma Sanet, tannie Agnes en oom Marius Victor al die pad van Langebaan om hierdie groot oomblik saam mee te maak.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'