Ferreira, wat soos gewoonlik die lagspiere goed laat werk het met al sy gevatte sêgoed, het die ewe tong-in-die-kies na Mosselbaai verwys as 'n bietjie van 'n 'culinary dessert', maar in dieselfde asem die Fynproewers geloof as 'n groep raakvatmense.
"Julle is altyd so 'ge-organise'," het Ferreira skertsend gesê.
"Ek het nie eens my 'toolbox' nodig gehad nie." Hy het ook met groot opgewondenheid verwys na die 'Proe Mosselbaai'-inisiatief wat volgende jaar van stapel gestuur sal word en opwindende moontlikhede inhou vir koskenners en onthaalentoesiaste.
Ferreira, ook sinoniem met die Eden School of Culinary Art in George, wat nou ook die Etude School of Hospitality insluit, het verwys na die belangrikheid van akkreditasie wanneer sjef-opleiding ter sprake kom en ook 'n lansie gebreek vir wat plaaslik in hierdie veld aangebied word in terme van hoe dit met ander instansies buite die streek vergelyk.
Ferreira se prettige demonstrasie het gefokus op al fresco-etes, juis met oog op die komende vakansie-seisoen.
Al fresco beteken letterlik 'in die buitelug' en gedurende die somervakansie is dit gewoonlik die ideale manier om kuiergaste te onthaal.
Ferreira het op sy eiesoortige, pittige manier verwys na hoe hierdie vorm van kos voorsit veral ideaal is vir mense wat dikwels in seisoentyd ongenooid opdaag. Te oordeel aan die Fynproewers se onderlangse gelag, was dit duidelik dat hulle welbekend is met die soort vakansiegedrag!
Hierdie was die Fynproewersgilde se laaste amptelike vergadering vir vanjaar. Hulle bied egter 'n afsluitingsfunksie, getiteld 'Piekniekromanse' aan op Vrydag, 2 November om 18:00 by die Dias Museum. Besprekings moet gedoen word teen 26 Oktober.
Vir meer inlIgting en besprekings, kontak Judy Meyer by 084 600 6622.

Hierdie engeltjie gemaak van dryfhout en gehekelde kant, het 'n besonderse natuurlike en organiese gevoel aan die tafeldekor gegee.

Treffende tafeldekor het die Kerstema pragtig uitgebeeld.
ARTIKEL EN FOTO'S: CORNELLE CARSTENS