MOSSELBAAI NUUS - Ouers is hande in die hare en daar is waarskynlik selfs meer uitdagings in die kaarte wat die dissiplinering van hulle kinders betref nadat lyfstraf tuis, verlede week deur die konstitusionele hof taboe verklaar is.
Volgens Creating Effective Families (CEF), 'n maatskaplike organisasie wat hulle beywer vir die skep van gesonder gesinne ten einde 'n gesonde gemeenskap te bewerkstellig, bemerk hulle al oor jare heen die behoefte aan ouergespreksgroepe oor die toepasssing van effektiewe dissipline tuis.
Die Mossel Bay Advertiser het by die maatskaplike werkers, dr Andri Nepgen, Petro du Preez en Irene Fischer gaan kers opsteek oor die huidige stand van sake.
Spelterapeut, dr Andri Nepgen, wat met kinders en dus ook met hulle ouers werk, meen dat lyfstraf gedrag slegs tydelik verander, maar op die lang duur nie 'n effektiewe vorm van dissiplinering is nie. "Ouers se verweer is dikwels maar dat dit is hoe hulle grootgeword het en daarom dissiplineer hulle deur lyfstraf."
Sy meen dat lyfstraf eksterne dissipline behels en dat dit nie bydra tot die ontwikkeling van selfdissipline by kinders nie.
"Die ongeluk is dat ouers nie kom aanklop vir hulp en sê 'asseblief, ek weet nie hoe nie'. Dis eers wanneer emosionele probleme soos aggressie, bednatmaak of tekens van depressie manifesteer, dat hulle hulp kom soek." Sy sê dat ouers dikwels vanuit 'n ego-perspektief ouerskap toepas. "En dit is nie waaroor dit gaan nie."
Oop kommunikasie
Petro du Preez meen mense soek dikwels na alternatiewe vorme van dissiplinering wanneer dit reeds te laat is. "Dit is logies dat ouers juis nou magteloosheid sal ervaar en voel dat hulle kinders nie kan beheer nie, want praat help nie."
Sy sê daar behoort oor tyd, van kleinsaf 'n familietradisie van oop kommunikasie gekweek te word omdat dit positief tot dissiplinering kan bydra.
Wat alternatiewe vorme van dissipline betref meen Nepgen dat een alternatief nie vir elke geval sal werk nie. "Dit is hoekom ons by CEF al jarelank ouergesprekke bepleit en nie programme aanbied nie."
"Wat ons nodig het, is dat die veroordeling weggevat moet word, sodat ouers openlik kan sê 'ek het 'n gemors gemaak, help'," meen Irene Fischer. Sy meen volwassenes moet kan aanvaar dat hulle ook nie al die antwoorde het nie en dat wanneer mense saam gesels, hulle makliker oplossings vind en insig kry.
Volgens CEF is konstruktiewe gesprekke 'n antwoord mag wees op die pad vorentoe om 'n weg deur die dissiplineringskrisis te baan. Die organisasie stel voor dat gesprekke moet plaasvind tussen ouers onder mekaar, tussen ouers en kinders, ook kinders behoort deel te kan neem aan 'n gesprek oor effektiewe vorme van dissiplinering.
"Mense weet inherent wat die regte ding is om te doen. Ook kinders kan baat vind deur deelname tot gesprek, omdat dit hulle platvorm bied om vir hulleself te begin dink. Ons het genoeg maatskaplike werkers om minstes hierdie gesprekke te help fasilieer," aldus Du Preez.
Vir meer inligting om gespreksgroepe te begin, kontak Creating Effective Families (044 693 1092).
Lees 'n verwante artikel | Lyfstraf: Ouers oor die vingers getik
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'