MOSSELBAAI NUUS - Waar is die dae toe die graad 1-leerdertjies huil en sommer net vasskop vir hierdie nuwe onbekende fase in hulle lewe?
Die afwagting, oor dit wat voorlê, staan op al die gesiggies geskryf. Nuwe skoolklere, skoene blink en met groot bravado het ons graad 1's hul opwagting by Laerskool Park gemaak. En hoekom dan nou nie? Hulle was immers alreeds tydens opedag in hul nuwe klassie en het vir juffrou ook al ontmoet.
Hier en daar is enetjie wat dalk mamma se hand bietjie langer vasgehou het, maar dit was net vir ‘n oomblik, toe neem die opwinding oor.
Baie dapper het die graad 1's die saal binnegestap terwyl die hele skool vir hul wag. Trots en regop het hul deur die verrigtinge gesit en agterna die skoolklok gaan lui as simbool dat hul skoolloopbaan formeel begin het by Laerskool Park.
Ons wense is dat hierdie nuwe avontuur aan al hul verwagtinge sal voldoen en dat, as hul weer die klok lui aan die einde van graad 7, hul met genoegdoening sal terugkyk op ‘n positiewe en verrykende laerskoolloopbaan.
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'