MOSSELBAAI NUUS - Die Suid-Kaap se kabaretdiva, Petronel Baard het verlede Vrydag, 11 Januarie om 11:00 die knoop deurgehaak toe sy met haar liefde van bykans 'n dekade, Jaco Swart getroud is.
Die feesvieringe het plaasgevind om die koeltebome van Riverside-vakansieoord, Klein-Brakrivier.
Gaste het gesellig in piekniekstyl onder die bome gesit en die koel luggie geniet, terwyl die paartjie aan mekaar trou belowe het. Bekende kunstenaars soos Schalk Maas en Stef Kruger, asook die geliefde saksofoonspeler, Boesman Keyser wat gereeld saam met Petronel optree, het die seremonie en vieringe verder ingekleur.
Natuurlik was een van die verrigtinge se vele verassings, 'n impromptu konsert. Hoewel sommige gaste moes terugkeer na hulle Vrydagverpligtinge, is daar voortgekuier en musiek gemaak totdat die wind en weer amper 'n tragiese einde aan die plesier gemaak het.
Hierdie boom is omgewaai tydens die erge wind verlede Vrydag terwyl huweliksgaste daaronder gesit het.
Vrydagaand se erge stormwind het 'n boom by Riverside omgewaai waaronder die huweliksgaste gesit het. Die bruidegom het ook onder van die takke beland en het 'n redelike hou teen die kop weg.
Gelukkig is niemand ernstig beseer nie en het die res van die gaste ongedeerd daarvan afgekom.
Petronel Baard het verlede Vrydag, 11 Januarie die knoop deurgehaak toe sy met haar liefde van bykans 'n dekade, Jaco Swart getroud is.
Kabaretdiva Petronel Baard op haar troudag verlede week. In die voorgrond is Ammari de Villiers wat die huweliksbevestiging behartig het. Foto: Cornelle Carstens
'Ons bring jou die nuutste Mosselbaai, Tuinroete nuus'